Die Voorblad

A+ A A-

Karin Roodt, kampvegter vir Afrikaans

Karin Roodt, redakteur van Praag (Pro-Afrikaanse Aksiegroep), hou Afrikaners daagliks aktief ingelig oor die gebeure in Suid-Afrika én buiteland wat hul toekoms direk raak. Voorblad het met haar gesels oor die jare in Frankryk en oor haar politieke leerskool.

 

“Die jare in Frankryk het my gou laat besef jy torring nie aan ‘n Fransman se taal en kultuur nie. Hulle laat dit nie toe nie. Buitelanders wat daar woon is welkom, maar jy praat Frans, punt.” En dit is presies wat Karin gedoen het.

 

Terwyl haar nou bekende eggenoot, dr. Dan Roodt ,besig was met studies, het sy Frans geleer praat en skryf.  En kort voor lank was sy ‘n Engelse onderwyseres aan ‘n bekende taalskool in Parys. In die hartjie van Parys was haar lewe ver verwyder van Oranje Meisies in Bloemfontein en Linden Hoërskool in Johannesburg waar sy skoolgegaan het.

 

Sy het die skone Sophie Marceau ,wat  James Bond se hart gesteel het in “The world is not enough” , Engels geleer. Ander student op haar lys van bekendes is  Claude Lelouch, Franse filmregisseur, en Roman Polanski se vrou, Emmanuelle Seigner.

 

Taallesse  aan bekendes is nie altyd in in die beknopte klaskamers aangebied nie, maar in vyfster restaurante geleë in die Avenue des Champs Elysees (een van die bekendste strate in Parys wat bekend is vir sy deftige restaurante en straatkafees).

 

“Party wou gretig Engels leer, maar vir ander was dit ‘n tydverdryf.” Maar die silverdoeksterre was nie haar enigste leerders nie. Sy het diplomate, politici, ambassadeurs Engels geleer. Sy het ook tolkwerk gedoen.

 

Sy het Franse diplomate vir die GATT-handelsonderhandelinge voorberei, asook voornemende politici vir die ENA, die beroemde Skool vir Politieke Administrasie waar byna al die bekende politici in Frankryk 'n draai maak.

 

Sy en Dan het in die  hart van Parys in ‘n sestiende eeuse woonstel gewoon en was gou deel van die mikrokosmos wêreld, ‘n klein Verenigde Nasies. Daar het sy goeie vriende gemaak met Russe, Duitsers en ander volke, vriende met wie hulle nou nog kontak het.

 

“Om so te midde van die politiek te lewe, was 'n yslike voorreg en besonderse leersame ervaring. Toe die aankondiging in 1992 in Suid-Afrika gemaak word dat daar onderhandelings met die ANC beoog word, was ons opgewonde oor dié politieke skuif.

 

Ek en Dan het besluit om op te pak en terug Suid-Afrika toe te kom. Onthou, ons was vir tien jaar blootgestel aan wêreldpolitiek en het 'n ander perspektief op Suid-Afrika se probleme gehad. “Ons was gou ontnugter deur die politieke skikking en het Praag begin om Afrikaners ‘n platvorm te gee waar gesprek gevoer kan word.”

 

Dit was vir hulle duidelik uit hulle internasionale ervaring dat dit noodsaaklik is om só 'n platform te skep wat ook met die buiteland kan skakel. Dan was die gesig van Praag en vandag is hy gereeld in debatte in die media en op openbare verhoë betrokke.

 

Die Roodt-egpaar is ook nou betrokke by die VF Plus waar beide in die laaste algemene verkiesing gestaan het. “Die VF Plus is die enigste party met ‘n sinvolle belofte en politieke oplossing. Die party laat ook geen steen onaangeroer om vir sy taal en kultuur te veg nie.

 

“Hul brood en botter kwessies is belangrik vir elke Afrikaner se behoud en daarom moet ons die arms van dr. Pieter Mulder, VF Plus leier, versterk deur die boodskap uit te dra sodat ons saam ‘n toekoms vir ons kinders se kinders kan skep.”

 

Tien jaar in Frankryk en Europa (want hulle het ook baie getoer) het baie gewoontes by hul ingeburger. “Ons eetgewoontes het baie verander. Ons eet klein maaltye, byvoorbeeld eier en aspersies, gevolg deur brood en kaas wat afgesluit word met ‘n slaai.”

 

"Sekere Franse gewoontes het by ons gebly, dis seker maar die Hugenote-voorouers se skuld," sê Karin. Maar was sy nog altyd 'n Afrikaner en sal een bly.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.