Die Voorblad

A+ A A-

Philip van Staden - VF Plus Pretoria Leier

“Politiek haal almal een of ander tyd in” - ‘n gewilde gesegde van Dr Pieter Mulder as VF Plus partyleier. Vir Rdl. Philip van Staden, Pretoria streekleier, het die politiek hom op sewejarige ouderdom reeds ingehaal en nooit weer laat gaan nie. Dit was een aand in 1983 toe hy en sy pa ‘n politieke vergadering van dr. Andries Treurnicht (leier van die destydse Konserwatiewe Party) en mnr. Ferdi Hartzenberg (wat dr. Treurnicht opgevolg het na sy dood) in die Pretoria-Noord stadsaal bygewoon het.

 

 

Vandaar was hy vuur en vlam vir die Afrikaner en sy voortbestaan. “In daardie jare was politieke vergaderings ‘n emosionele vuurbol. Almal het arms geswaai, op stoele gestaan, (partykeer met die stoel na die spreker gemik) ongeduldig gewag vir ‘n spreukbeurt.. “

 

In Gr 6 (destydse Std 4) het hy by die jeugstrukture van die party ingeskakel en daar gebly tot na matriek.

 

“Toe kom 1994 en die Afrikaner spat uitmekaar en ek het genl. Constand Viljoen gevolg. In daardie jaar bring ek my eerste stem vir die Vryheidsfront Plus uit en sedertdien het ek nog nooit anders gestem nie. Dit was my politieke tuiste.”

 

As jongman moet Rdl. Van Staden vinnig leer om sy eie potjie te krap en het tot 2006 homself besig gehou met sy sakeondernemings.

 

“Ek het die politiek op ‘n afstand gevolg. Was altyd bewus van die Afrikaner worsteling, maar in 2006 kon ek nie anders nie - ek moes terug”. Sedertdien was sy lewe nooit weer dieselfde nie. In 2007 raak hy aktief betrokke in die soektog na klein Sheldean Human. Hy soek dae lank saam met polisie en inwoners na haar. Sy word later in ‘n sloot gekry – Philip is by, maar hy stop nie. Hy glo vas dat daar ‘n toekoms vir die Afrikaners is en begin met opheffingswerk – op grondvlak.

 

Hy woon die hofsaak van Sheldean se moordenaar by en samel 1 000 sagte speelgoed in vir die bekamping van kindergeweld. Sedertdien sien jy hom gereeld in die nuus en op televisie waar hy besig is om kos vir die armes uit te deel, protes optogte te lei, veg in die howe om mense in hul wendyhuise te laat aanbly en wanneer die burgemeester weier om hom te sien slaan hy doodeenvoudig ‘n tent voor haar amptelike woning in Groenkloof op tot sy gehoor aan sy pleidooie gee.

 

Sy CV is baie lank en sy reputasie strek vêr, maar die man met sy blonde hare en onuitputbare energie is nie bang om te sê hy stuit vir niks behalwe sy God nie. “Ek is ‘n Godvresende mens en daarom het ek ook ‘n opdrag – om seker te maak dat mense nie onderdruk word nie, dat hulle regverdig behandel word, hulle nie honger gaan slaap nie, kinders nie leed aangedoen word nie, die natuur instand gehou word.

 

So tussen sy besige program maak hy tyd vir die liefde van sy lewe. Hulle beplan om in Mei 2012 te trou. Sondae is hulle dag, dan skakel hy sy selfoon af en hulle kuier om die braaivleisvuur. Sy maak vir hom mieliepap en sous saam met sy gunsteling aartappelgereg.

 

Nog ‘n liefde in sy lewe is musiek. Hy is die trotse eienaar van 700 CD’s van Afrikaanse sangers. “Ek moet bieg daar is ‘n addisionele 150 CD’s tussenin van buitelandse sangers.” Waarvan hou hy die minste in mense? Mense met geen integriteit nie.

 

En as jy jou lewe kan oorhê? “Ek sal dit weer doen. Ek is ‘n aktivis en sal vir die res van my lewe een bly. Die Vryheidsfront Plus gee my daardie ruimte om ‘n politieke aktivis te wees.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.