Die Voorblad

A+ A A-

Merkwaardige toewyding vir jou medemens

Dit het hom net tien minute geneem om president Jacob Zuma te oorreed om ook na arm Afrikaners om te sien. In hierdie tien minute, vyf jaar gelede, het raadslid Philip van Staden aan pres. Zuma (toe nog net president van die ANC) verduidelik hoe groot die behoefte van arm blankes werklik is. ‘n Konsep wat pres. Zuma glad nie verstaan het nie. Hy was tot kort tevore nog onder die indruk dat alle witmense  genoeg het om van te lewe.

 

 

 Rdl van Staden, toe ook nog ‘n groentjie in die politiek, het net een droom gehad – om iets groot te doen vir sy mede Afrikaners. Hy het die ideaal telkens bevestig, selfs in sy  verkiesingsveldtog manifes. Sy persoonlike oorwinning het gekom toe die presidensie op 15 Julie vanjaar aankondig dat pres. Zuma self Suiderberg  gaan besoek om die voltooide HOP-huise te oorhandig. Sy mense gaan huise kry! “Jy besef eers werklik die impak van jou aksies wanneer die media en vriende jou skakel en geluk wens.”

 

Sy verhaal begin een oggend in 2006 toe hy opstaan en besluit genoeg is genoeg. Hy het self in die Moot gewoon en die elende van sy mede Afrikaners elke dag beleef. Hy was ‘n suksesvolle sakeman en binne 24 uur was hy werkloos en het sy politieke loopbaan begin. Sonder enige vorm van inkomste het hy sy aktivistiese rol uitgeleef en uiteindelik in 2011 is hy verkies as raadslid vir die VF Plus in Pretoria.

 

In 2008 het hy gestaan as kandidaat vir die VF Plus in ‘n tussenverkiesing in die Wesmoot. Hy het die verkiesing met 143 stemme verloor. Dit was tydens hierdie veldtog wat hy aan sy kiesers voldoende behuising belowe het. Twee dae later  het  pres. Jacob Zuma, toe nog net President van die ANC,  arm blankes in die gebied kom besoek en Philip was daar om met hom te kon praat. Die kort gesprek van tien minute sou  vyf jaar later  vrugte afwerp.

 

Rdl Van Staden se gesprekke het nie net by pres. Zuma gestop nie. Hy wou met dr. Gwen Ramakgopa, destydse burgemeester van Tshwane, praat en aan haar die probleem verduidelik. Sy wou niks weet om hom te sien nie. Een Saterdagoggend vroeg het hy sy tentjie in sy kar gelaai en voor haar huis gaan opslaan. Een na die ander koerant het begin opdaag totdat munisipale polisie  met outomatiese gewere aan gejaag kom en dreig om Van Staden summier in   hegtenis te neem.

 

Dr. Ramakgopa wat na bewering nie tuis was nie en gou van die ‘plakkers wat op haar sypaadjie ingetrek het te hore gekom het, het dadelik haar sekretaris gestuur om die situasie te ontlont. Sy het ook belowe om hom die komende Maandag te sien. Die voorblaaie van die koerante was die volgende dae vol van die burgemeester en haar nuwe plakker. Twee dae later was pres. Jacob Zuma weer in die Wesmoot  en hierdie keer as president van Suid-Afrika.

 

Dr. Ramakgopa het vir Van Staden  aan die president voorgestel as haar “squatter” .  Gedurende die vyf minute gesprek met die president het Van Staden  ‘n versoekskrif met griewe aan die President oorhandig en die saad  wat in 2008 geplant is, het nou liters water  gekry. Die president het belowe, voor die wêreld media op daardie dag in 2010, dat arm blankes huise sal kry.

 

In 2011 is rdl. Van Staden as stadsraadslid van Tshwane verkies en dien op die behuisingskommitee en dit is hier waar hy verbete vir die arm blankes geveg het. In September 2011 word die behuisingskrisis op die spits gedryf toe ‘n hewige debat in die raad uitbeek en daarmee saam ‘n oproer onder die blankes in die Wesmoot.

 

Twee dae later praat die nuut verkose Ramakgopa  met rdl. Van Staden en hulle begin saam aan die probleem werk. Van Staden oorhandig ook ‘n databasis van 4 000 arm blankes wat in wendyhuise in die Wesmoot bly. In Desember stuur die raad briewe aan wendyhuis-inwoners- hulle moet die houthuisies  ontruim – dit is teen die munisipale bywet regulasie.

 

Die VF Plus laat hulle nie onderkry nie en dwing die Tshwane metroraad hof toe. Na hewige gevegte moet die metroraad die aftog blaas en die wendyhuis inwoners mag bly. Van Staden vertrek kort na die uitspraak na Durban waar hy die nasionale behuisingskongres namens die raad bywoon.

 

Ook hier laat hy sy stem hoor oor die blanke armoede en behuisingsprobleem vir Afrikaners in die land. Aan die einde van die kongres gee die ANC bes en word ‘n skikking bereik. Met sy terugkeer in Pretoria kondig die burgemeester aan dat die eerste huise in samewerking met die Gautengse department van behuising vir arm blankes gebou gaan word.

 

Bouwerk het in Januarie 2013 begin in Elandspoort,Danville en Suiderberg. Die projek sal teen Desember 2013 voltooi wees. Van Staden het hierdie week die huise in Elandspoort besoek en met mense gepraat. Trots en vol blydskap het hy gesê: “ As jy iets vir jou mede Afrikaner kan doen, daardie dag is onbeskryflik”.

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.