Die Voorblad

A+ A A-

Innoverende denke in Orania

Om iets sinvol uit ou teëls, leë koeldrankbikkies en botteltjies, sandsakke, ou buitebande en strooi te maak, moet jy nie net ‘n kunstenaar wees nie, maar ook ingenieur, entrepeneur, avontuurlustig en ‘n goeie sin vir humor hê. En dit is Ludwig Everson en sy vrou Retha beslis. Die Voorblad het onlangs besoek afgelê by Orania (die selfversorgende dorp in die Noord-Kaap) en die Eversons se aardskip-konsep gaan bekyk.

 

 

Sommer so met die aankomslag besef jy daar is fout, groot fout – niemand laat toe dat ‘n pampoenplant jou deurraam en vensters byna toerank nie. En dan pronk daar nog sulke groot vet wit pampoene wat aan hul stele hang aan die deurraam waardeur jy moet stap om die huis aan die binnekant te verken.

 

Skielik word jy deel van die Eversons se droomhuis, ekohuis, afvalhuis waar elke stukkie materiaal wat gebruik word om te bou, sorgvuldig geplaas word om so deel van aardskip-projek te word. Die huis en kantoorruimte se mure is met sandsakke gebou. Die sandsakke is opmekaar gestapel waarna dit gepleister is met ‘n mengsel van sand, strooi en skalie. Die ideaal is om ou buitebande te gebruik, maar dar is nie genoeg in Orania nie.

 

Die binnemure is van koeldrankblikkies en –bottels gebou wat toegemessel is met die sandmengsel en kalk wat sorg dat die mure waterdig en sterk is. Die dakke is hoog en die noordkant van die huis is bedek met groot glasvensters. In die winter strek die son tot by die agterste muur van die huis maar in die somermaande is die huis koel.

 

Voor die dubbel glasvensters het Ludwig groot plantbakke ingebou waarin groente geplant word. Die water word optimaal gebruik. Orania kry gemiddeld 300mm reën per jaar. Die water word in ses opgaartenks opgevang. Die water word deur filters gepomp en as skoon water gebruik, dan word dit gebruik om die plante water te gee en deur die plantwortels en skalie gefiltreer. Dan word die water vir was- en toiletgebruik aangewend waarna dit in ‘n septiese tenk verwerk en dan uitgepomp word na bome en nie-eetbare plante.

 

Die krag wat die yskas, wasmasjien, rekenaar ens ontvang word deur middel van sonkrag en batterye voorsien. Die Everson-gesin is reeds twee jaar besig om die huis te bou en dit nader nou vinnig die einde. Ludwig vertel sy grootste uitdaging was die dakkappe in te bou en in te sit. Dit is gedoen sonder ‘n stelasie waarop ‘n mens kan staan. So ook met die yslike vensters en vensterrame.

 

Die rame is op die grond aanmekaar gesit en met ‘n katrol opgehys en dieselfde metode weer om die ruite in te sit. Alles met beperkte arbeid – nooit meer as vier mense wat help nie. “Suid-Afrikaners moet weg beweeg van kolonialisme en begin selfdoen,”sê die man wat met ander se afval ‘n tuiste kan skep waarvoor geen huis in Helderfontein Estate naby Dainfern hoef terug te staan nie.

 

Sy konsep is so gewild dat dit van meet af ‘n toeriste aantreklikheid geword het. Selfs die ANC raadslede in Bloemfontein het kom kyk hoe die ekovriendelike huis funksioneer en beplan om die konsep te gebruik om HOP-huise so te vervaardig.

 

Foto: Ludwig Everson in sy huis in Orania

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.