Die Voorblad

A+ A A-

Verkeerd dat oorwinnaar geskiedenis skryf

“Ons leef in ’n tyd van leuens en propaganda oor die verlede. Daarom is dit belangrik dat die stories en geskiedenis van die verlede van alle kante vertel en belig word. Daarsonder gaan ons nie by die waarheid uitkom nie,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê.

 

 

Dr. Mulder het as hoofspreker opgetree by die bekendstelling van die skrywer Neil Edwin Danaub Dikwex se boek Bloedgrond. Die boek beskryf die geskiedenis van die Khoi-Khoi-, Griekwa- en Nama-helde van die verlede. Tydens die verrigtinge is verwys na dr. Mulder se botsing verlede jaar met president Zuma oor grond en of Khoi-Khoi- of Xhosasprekers eerste in die Wes-Kaap was.

 

“Hoewel ek nie met alles in die boek saamstem nie, verhoed dit my nie om hier te praat en mense aan te moedig om die boek te lees nie. Sonder begrip vir mekaar gaan ons nie Suid-Afrika se probleme oplos nie,” het Mulder gesê.

 

“Wat ek uit die geskiedenis geleer het, is dat dit altyd deur die oorwinnaars geskryf word. Wanneer twee kulture bots, is daar altyd pogings om die verloorder se kultuur as minderwaardig voor te stel en uit te wis en om dan sy mense te forseer om die wenner se kultuur te aanvaar. Daarom is dit nodig dat ’n boek soos hierdie geskryf word,” volgens dr. Mulder.

 

“Suid-Afrika is vandag die sterkste land in Afrika. Ek is trots op my voorvaders en die rol wat hulle in die opbou van Suid-Afrika gespeel het. Maar elke groep in Suid-Afrika het in die verlede goeie goed gedoen en foute gemaak. Daarvoor moet daar erkenning kom. Ons kan lief wees vir wie ons is, sonder om te haat wie en wat ons nie is nie,” het hy gesê.

 

Die verrigting in Elsiesrivier, Kaapstad is geopen met die bid van die “Onse Vader”-gebed in Nama.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.