Die Voorblad

A+ A A-

Wat is ‘n mislukte staat, en hoe naby is Suid-Afrika daaraan?

Die vraag word behandel in ‘n artikel van twee kundiges op dié gebied, prof. David Welsh en mnr. Paul Hoffman wat in ‘n Engelstalige dagblad verskyn het. Dit bied nie ‘n alleen ‘n indringende blik op die ekstreme probleme wat tans in die land ondervind word nie, maar kom tot die gevolgtrekking dat die ANC-regering in ‘n beskimmelde staat verkeer wat Suid-Afrika tot op die rand van ‘n afgrond bestuur het.

 

 

Welsh is ‘n afgetrede professor in politieke wetenskap en Hoffman ’n direkteur van die Instituut vir Aanspreeklikheid in Suid-Afrika. Hulle verwys onder meer na die uitsprake van die toekoms-ontleder mnr. Clem Sunter, wat na die Marikana-slagting gesê het Suid-Afrika se kans om ‘n mislukte staat te word, het van een uit tien tot een uit vier verhoog.

 

Hulle sê ‘n mislukte staat in sy terminale vorm is wanneer dit totaal inplof en net ‘n leë dop agterlaat. ‘n Staat is volgens hulle ‘n entiteit wat die monopolie op die gebruik van regmatige geweld in ‘n land het, of ‘n institusionele verteenwoordiger van die inwoners van ‘n land.

 

Uitsonderings is lande soos Zimbabwe en Noord-Korea waar die staat steeds bestaan en die magsmonopolie het, maar nie die essensiële bestanddeel van legitimiteit het nie. Suid-Afrika is nog ver daarvan sê hulle. Daar is geen bedreiging vir sy grondgebied nie, geen bedreiging van ‘n gewelddadige omvêrwerping van die regering nie en nie ‘n dreigende binnelandse konflik wat die land onregeerbaar kan maak nie.

 

Die land beskik oor demokratiese instellings – al vaar hulle ook hoe sleg – reg en orde word gehandhaaf en sy inwoners se menseregte word beskerm. Daar is egter talle onheilspellende tekens wat gevaarligte laat flikker.

 

Mislukking vind gewoonlik plaas weens  ‘n reeks aaneenlopende gebeure soos disfunksionele staatsinstellings, protes-aksies (soos die gereelde veldtogte oor swak dienslewering), onwettige en soms gewelddadige stakings, en die vervreemding van veral jong, stedelike swartes wat geen hoop het om werk te vind nie.

 

‘n Gevaar wat Suid-Afrika in die gesig staar, is nie soseer die afskaffing van sy Grondwet nie, maar die ondermyning daarvan deur van sy sleutel-instellings met politieke aanstellings te vul. Die regbank en die Openbare Beskermer kan goeie voorbeelde hiervan wees.

 

Verdere gevaartekens dat sleutel-instellings bedreig word, is kader-aanstellings wat reeds chaos veroorsaak het in die gladde funksionering van die regering op alle vlakke, swak parlementêre oorsig en die onwilligheid om indringende parlementêre vrae te beantwoord.

 

Wat sedert 1994 in Suid-Afrika plaasvind, is ‘n stadige, maar deurlopende proses van versmelting tussen party en staat, en die weiering om die legitimiteit van opposisiepartye waarlik te erken. “Die ANC glo oënskynlik hy het ‘n goddelike reg om te regeer. Dit is die enigste afleiding wat gemaak kan word aan die hand van sommige uitsprake van President Jacob Zuma.

 

“Die versugting om mag op alle gebiede te beheer, het te ver gegaan. Algaande sal onafhanklike bronne van inligting stilgemaak word met verreikende gevolge aangaande persvryheid. “Endemiese korrupsie het ‘n vernietigende effek op die land. Of die pleidooi van minister Trevor Manuel aan staatsamptenare om korrupsie te bestry enige uitwerking gaan hê, sal nog gesien moet word” sê Welsh en Hoffman.

 

Hulle sê die faktore wat tot ‘n mislukte staat lei kan ‘n ‘wrede kringloop’ vorm, maar dat mislukking nie onafwendbaar is nie. “Kragdadige regstellende optrede is nodig. Dit vereis sterk leierskap, en dit is presies wat ons nie het nie. Die ANC word gemanipuleer deur faksies, en sy vennootskap met die SAKP en Cosatu is ‘n albatros om die nek.”

 

Daar is twaalf maatstawwe wat gebruik word om die kanse op mislukking te meet. Op ‘n erkende internasionale ranglys is Suid-Afrika in die 66ste plek. Vier van die maatstawwe is sosiale aanwysers. Een daarvan is demografiese druk wat onder meer veroorsaak word deur faktore soos dispute oor grondbesit en die herverdeling van grond. Ook die teenwoordigheid van vlugtelinge op grensgebiede en in stede,

 

Nog ‘n teken van mislukking is die interne verskuiwing van mense wat in haglike omstandighede in plakkersgebiede woon, ‘n tendens van wraaksug van sekere groepe teenoor ander, soos vreemdelingehaat en haat teenoor Afrikanerboere (plaasmoorde), asook  nasionalistiese politieke retoriek soos ‘die land is van ons gesteel’.

 

Voeg daarby die groot uittog van geleerdes sowel as middelklas-mense uit die land. Die krimpende blanke bevolking en hul demografiese profiel is tekenend hiervan.

 

Wat ekonomiese faktore aanbetref is groot gapings tussen inkomstegroepe, opvoedingsvlakke en opleidingstelsels, en ekonomiese agteruitgang, belangrike aanwysers. So ook werkskepping, verswakking van die geldeenheid, kospryse, buitelandse beleggings, en die voorkoms van korrupsie.

 

Van die politieke aanwysers is die kriminalisering van ‘n staat, vinnige agteruitgang van openbare dienste, vertrapping van menseregte, die gebruik van veiligheidsmagte as ‘n ‘staat binne ‘n staat’, die verskyning van elite-faksies en die ingryping van ander state in ‘n land se bestuur.

 

“Oorsigtelik is die prentjie, wat Suid-Afrika aanbetref, nie mooi nie. Die wettigheid van ‘n staat hang af van sy heelhartige omarming van die waardestelsels soos vervat in sy grondwetlike bestel.

 

“Ons Grondwet is goed, maar word voortdurend ondermyn en uitgekalwe deur die leerstelsel van ‘n ‘nasionaal demokratiese revolusie’ wat nagejaag word deur mense in die ANC wat nie die Nasionale Ontwikkelingsplan omarm soos die ANC dit in Mangaung gedoen het nie.

 

“Sonder ware eerbiedigheid aan die land se grondwetlike beginsels, sal Suid-Afrika onvermydelik al hoe laer teen die ranglys afskuif,” Aldus Welsh en Hoffman..

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.