Die Voorblad

A+ A A-

Heuning is soos goud vir nege in Noord-Kaap

Oorlewing vertel voor Cupido na paartjies mik, doop hy eers sy liefdespyl in heuning – ander glo weer heuning het uitstekende medisinale voordele. Maar hoe dit ook al sy, in die Noord-Kaap het heuningbye die lewe van nege mense en hul gesinne drasties verander.

 

Dié inwoners van Kathu het daarin geslaag om ‘n winsgewende onderneming op die been te bring en verlede jaar 1000kg heuning aan koöperasies gelewer. Die vernote bedryf hul onderneming wat deels uit 50 byekorwe bestaan, op ‘n perseel naby die dorp se vliegveld.

 

Die koöperasie word luidens ’n berig op Sake24.com deur OrganiMark, ’n bemarker van organiese produkte, bygestaan om hul produk aan plaaslike supermarkte te verskaf. Hulle poog ook om die onderneming op die Pick n Pay-groep se databasis van organiese verskaffers te kry.

 

Die Landbou weekblad berig Heuningpot-produkte word verkoop in winkels wat billike handelspraktyke onderskryf. “Dit beteken mense wat die produk koop, kan seker wees dat die byeboere die premie ontvang op die produkte wat hulle verkoop sodat hul lewensgehalte kan verbeter,” vertel mnr. Heinrich Schultz, besturende direkteur van OrganiMark.

 

Me. Oduetse Kolberg, ’n ekonomiese ontwikkelingspraktisyn by die Sishenmyn, sê vordering word gemaak met die groep se planne om aan Pick n Pay te lewer. Die koöperasie kry einde Maart nog korwe uit Limpopo, wat hom in staat sal stel om vier keer meer heuning op ’n volhoubare grondslag te lewer.

 

Met dié stap sal die groep se inkomste verder kan groei deur produkte uit byewas te vervaardig. Die heuning word van inheemse bome en plante gemaak en geoes sonder die gebruik van enige chemiese middels.

 

Die meeste van die vennote was voorheen werkloos en is deur middel van AgriSeta en Skills for Africa opgelei. Hulle het elkeen ook ’n sertifikaat van die Suid-Afrikaanse Byebedryf-organisasie (Sabio) gekry.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.