Die Voorblad

A+ A A-

Moedertaaldag: ‘n Uiteenlopende Kultuur Viering

Vandag is Internasionale Moedertaaldag. ‘n Dag wat wêreldwyd gevier word om so die uiteenlopendheid en ryke kultuur van volke se moedertaal te vier. Adv Jacques du Preez van die FW de Klerk Stigting het gaan ondersoek instel.

 

Hy het die volgende geskryf:

  • Ongeveer 6 800 verskillende tale en dialekte word deur byna 7 000 miljoen mense op aarde gepraat. 
  • 94% van die wêreld se tale word deur slegs 6% van sy mense gepraat en die meeste tale het minder as 1 000 sprekers;
  • die moedertaal met die grootste getal sprekers is Manderyns, wat deur 935 miljoen mense gepraat word;
  • Spaans is die tweede grootste taal, met 387 miljoen sprekers, met Engels kort op sy hakke met 365 miljoen, Hindi (295 miljoen) en Arabies (285 miljoen).
  • Die wêreld se mees gesproke taal is egter “swak Engels” - as mens die 750 - 1 000 miljoen mense in ag neem wat dit as ’n tweede taal praat of wat dit in ’n mate verstaan. Die wêreld se langste alfabet is Kambodjaans met 74 letters (drie keer meer as Engels); en
  • die kortste alfabet is Rotokas in die Solomon-eilande met slegs 11 letters.

 

Tale word uitgedruk in letters, woorde, boeke, liedjies en die stories van die mense wat dit praat. Taal kan egter ook ander vorme aanneem. 70 miljoen mense regoor die wêreld gebruik gebaretaal as hul eerste taal.

 

In Mexiko voer die Mazateco-Indiane dikwels ’n hele gesprek deur slegs te fluit, wat gebaseer is op die ritme en toon van die gesproke taal. In Afrika, Nieu-Guinee, en ander tropiese dele van Amerika, gebruik mense deur die eeue drom-telegrafie om met mekaar oor groot afstande te kommunikeer.

 


Tale gaan terug so ver as die mensdom se oorsprong en is steeds baie relevant vandag - nie net wat die wetenskap van taal betref nie, maar ook sy oorspronklike vorms: NASA se ruimtetuig, Voyager - wat in 1977 gelanseer is en wat reeds ons sonnestelsel verlaat het - bevat die sogenaamde "Goue Rekord" wat versamelde inligting oor die aarde en sy mense bevat.

 

Die "Goue Rekord " bevat, inter alia, groetwense in 55 tale. Dit sluit nie net die groetwense in Latyns, Antieke Grieks, Sumeries, Teloegoe en Armeens in nie, maar ook Zulu en Sotho.

 

Die Suid-Afrikaanse Grondwet slaan ag op die kultureel en linguisties diverse aard van ons samelewing en bepaal spesifiek dat Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, Engels, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu die amptelike tale van die Republiek is. Die Grondwet stel dit duidelik dat al Suid-Afrika se tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word.

 

Kan ons as Suid-Afrikaners - gegewe ons grondwetlike verpligtinge ten opsigte van taal - werklik deelneem aan die vieringe van Moedertaaldag?, vra adv. du Preez. Alhoewel die Grondwet amptelike status verleen aan ons tale en ons die reg gee om hulle te gebruik en onderwys in die taal van ons keuse te ontvang, is die scenario in die praktyk ongelukkig dikwels heelwat anders:

 

  • Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (aan wie die bevordering van alle amptelike tale, sowel as die Khoi-, Nama-, San- en gebaretale, toevertrou is) speel nie die rol wat vir hom ingesien is nie weens wanbestuur en verwaarlosing;
  • die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale wat onlangs aanvaar is, is niks meer as ’n haastige poging deur die regering om ’n beleid oor amptelike tale te aanvaar wat aan die Grondwet voldoen. Dit doen nie genoeg om die ontwikkeling van die voorheen benadeelde tale of die gelykheid van aansien of billike gebruik te verseker nie;
  • Afrikaanse enkelmediumskole is toenemend onder druk van die regering om kinders wat nie Afrikaans praat nie te aanvaar vir onderrig in Engels - ten spyte van die grondwetlike bepalings vir enkelmediumonderrig. Dit is nie ’n geval van uitsluiting op grond van ras nie want die skole verwelkom enige kind wat bereid is om in Afrikaans onderrig te word. Dit is eerder ’n geval van die oorlewing van onderrig in minderheidstale omdat vorige ervaring daarop dui dat die wêreldtaal, Engels, neig om die minderheidstaal uit te dryf sodra dit in voormalige enkelmediumskole bekendgestel word. Daar is toenemende voorvalle van diskriminasie op grond van tale, ten spyte van die grondwetlike verbod op sodanige diskriminasie en die vereiste dat alle tale gelykheid van aansien moet geniet.
  • ’n vrou is onlangs vir vyf dae aangehou omdat ’n landdros van die Johannesburgse Handelshof na bewering geweier het om haar aansoek om borgtog in Afrikaans aan te hoor;
  • die Departement van Korrektiewe Dienste het geweier om jaarlikse verhogings aan Afrikaanssprekende werknemers toe te wys omdat hulle daarop aangedring het om Afrikaans in departementele korrespondensie te gebruik. Afrikaanssprekende kandidate word gedwing om eksamens ten opsigte van finansiële dienste in Engels af te lê ten spyte daarvan dat hulle die meerderheid uitmaak van diegene wat die eksamen aflê.

 

Die tale wat ons praat is onlosmaaklik deel van ons kulturele en persoonlike identiteite en dus van ons grondliggende regte tot menswaardigheid en gelykheid. Ons tale kan gebruik word om ons nader aan mekaar te bring, óf om ons te verdeel. Hoe meer ons die ryke verskeidenheid van ons tale erken en versorg, hoe meer sal ons eenheid in ons diversiteit vind.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.