Die Voorblad

A+ A A-

Suid-Afrika kort ‘Evolusie’ nie ‘Revolusie’

Dit is niks snaaks om elke aand na die nuus te kyk en die woord ‘revolusie’ te hoor nie.  As dit nie Julius Malema is wat vra vir ‘n ekonomiese revolusie nie, dan is dit die ANC jeugliga wat skree vir ‘n sosiale revolusie. Soms wonder ek as mens die woord ‘revolusie’ drie keer voor ‘n spieël sou sê of Karl Marx nie gaan uitspring en saam toyi-toyi nie.

 

 

Die feit van die saak is dat die jeug wat so vra na revolusie nie ‘n idee het wat dit werklik behels nie.  Hulle was nie eens deel van Apartheid nie - dit is soos ‘n apartheidsliedjie wat vashaak op een plek. Die revolusie is verby kêrels - wat Suid-Afrika nou nodig het is evolusie.

 

Ons vorder met evolusie positief na beter organisasies en regerings deur klein veranderings te maak aan die regerings- en die ekonomiese masjinerie van Suid-Afrika. As jy ‘n probleem met die regering van die dag het, gaan maak jou stem tel by ‘n verkiesingspunt.  Dit help nie jy gaan stem ANC en dan wil jy ANC dorpe afbrand nie.

 

Wat sou die logika in hierdie benadering wees?  Dit help ook nie as jy elke dag oor ‘n vrot regering kla en kom verkiesingsdagnaweek, jy liefs jou karavaan pak vir ’n lui lekker langnaweek.  Waar is die logika in hierdie benadering?

 

Wanneer jy besluit om ‘n drastiese verandering in jou lewe te maak (revolusie) en jou eie besigheid te begin, verg dit evolusie om die besigheid te verfyn.  Ons brand nie elke maand die besigheid af en bou dit dan van voor af op nie.  Dit herinner my aan een aand op ENCA Nuus waar daar ‘n onderhoud gevoer was met een van die stakers op Sasolburg.

 

Hy het gesê:  “Die staking en geweld was nodig anders gee die regering nie om nie, maar nou sukkel ons - hier is nie brood of melk nie”.  Ek onthou hoe ek in my onderbewussyn gedink het: “Jy soek ‘n revolusie maar kan dit dan nie hanteer nie! Hoekom is ons nog nie verby hierdie revolusionêre denkwyse nie?”

 

Die evolusionêre proses gee vir ons land meer diversiteit, ‘n proses wat ‘n probleem regmaak soos ons dit identifiseer.  Geen regering wat deur die mens gemaak is, was nog ooit perfek nie.

 

Dit het tyd geword vir die Afrikaner om te besluit of hy in hierdie revolusie wil bly en sien hoe alles tot niet gaan om hom, of gaan hy evoleer na ‘n eie regering wat die minderheid se evolusie op die hart dra.

 

Die ANC gaan dieselfde besluit moet maak, hoewel dit duidelik is elke aand op Suid-Afrika se nuuskanale dat hulle mekaar gaan revolusioneer tot daar net klippe en stof oorbly.

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.