Die Voorblad

A+ A A-

Stakings: ‘n Vingerwysing na vryheid

Net toe party Suid-Afrikaners gehoop het 2013 sal ‘n jaar van rustiger beraadslaging en bedinging as 2012 wees, slaan ander Suid-Afrikaners met die Wes-Kaapse landboustaking en Sasolburgse demonstrasies toe. Talle nuwejaarsvoornemens om meer positief na die land en sy toekoms te kyk, het verdwyn.

 

Selfs die feit dat die demonstrasies intussen beëindig is, verdoesel nie die strukturele probleme wat dit veroorsaak het nie. Terselfdertyd het oud-president FW de Klerk ironies opgemerk dat bykans alle besoekers aan Suid-Afrika sedert 1652 saamgestem het dat dit ‘n pragtige land is, maar nie langer as nog vyf jaar staande kan bly nie.

 

‘n Nugter ontleding is in sulke tye ‘n goeie alternatief vir absolute pessimisme of positiwiteit wat aan naïwiteit grens.  Suid-Afrikaanse patriotisme, in teenstelling met etniese lojaliteit, word al sederd die 1860’s aktief bepleit. Eers was dit uitsluitlik Engelse wat hulle ryk op die manier wou uitbrei.

 

Later het Afrikaners dit aktief bepleit, maar ‘n Afrikanerstaat van die Kaap tot aan die Zambesi bepleit. Die Unie van 1910 het die twee Britse kolonies van Natal en Kaap die Goeie Hoop, asook die oorwonne Boererepublieke van Transvaal en die Vrystaat ingesluit.

 

Sekere swart stamgebiede is ingesluit, terwyl aanvaar is dat die Hoë Kommissarisgebiede, Betsjoeanaland, Swaziland en Basotholand te gelegener tyd sou aansluit.

Suid-Afrika het die onversoenbare probeer verenig: Afrikanernasionalisme, Britse imperialisme en Afrika nasionalisme. Elke magsgroep kon sien hoe Suid-Afrika kan floreer as die ander groepe net bereid sou wees om in te val.

 

Imperialiste sou graag Afrikaners en swartmense op verskillende vlakke van ‘n (vanselfsprekend) Engelsbeheerde ekonomie en staat akkommodeer. Afrikaners sou Engelse ekonomiese insette verwelkom, solank dit nie Afrikanerbeheer oor die politiek staat nie.

 

Swart arbeid was vanselfsprekend, maar moes slegs in verlangde getalle op uitgesoekte plekke, en dankbaar vir die geleenthede in “blank Suid-Afrika” wees. Tans is swart nasionaliste aan die stuur. Hulle is goedgesind teenoor blankes, veral dié wat besef dat hulle welvaart op swart benadeling gebou is en regstelling blymoedig aanvaar.

 

Dit is belangrik om te besef dat die heerskappy van swart nasionalisme nie in die afsienbare toekoms omgekeer gaan word nie. Die regerende party kan (onwaarskynlik) verslaan word, maar die gesisgspunt sal dieselfde wees.

 

Dit is die lig waarin die stakings en betogings van Januarie 2013 gesien moet word: In die Wes-Kaap val ‘n eeue oue feodale verhouding tussen landbouondernemers en -arbeid uitmekaar. Die proses mag vinniger of stadiger beweeg, maar is onherroeplik. In Sasolburg en elders wil die “have nots” die voorregte wat hulle sedert 1994 ontwyk, gryp.

 

Afrikaners is geneig om ons alleenlik op “objektiewe instrumente van die regstaat” te beroep. Swart nasionaliste sal dit toenemend beskou as pogings om Suid-Afrika volgens imperiale of Afrikaner nasionalistiese model te herbevestig.

 

Wat teen mekaar te staan kom is nie lig teen duisternis, orde teen chaos, of die rasionele teen die irrasionele nie. Dit is uiteenlopende kulture wat in teenoorstaande politieke en ekonomiese denkbeelde vergestalt. Daarom is dit ‘n vingerwysing na vryheid. Mag Afrikaners dit raaksien.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.