Die Voorblad

A+ A A-

Minderheidsregte in Duitsland

In die koerant Der Spiegel van 14 November 2012 het ‘n artikel verskyn onder die opskrif: “Noord-Duitse Staat Stem vir Die Beskerming van die Roma en Sinti Minderheid”. Die Roma en Sinti - minderheid in Duitsland vorm deel van die Roma Etniese groep wat oral in Europa te vinde is.

 

Die groep het in die verlede bekend gestaan as die Sigeuners, wat ‘n etniese groep is wat eintlik afkomstig is uit Indië. Deur die erkenning van die Regte op Beskerming van hierdie etniese groepe het die noordelike staat van Sleeswyk – Holstein die eerste Staat in Duitsland geword wat die Roma en Sinti - groepe bygevoeg het, by die lys van etniese groepe wat in Duitsland beskerm moet word. Hierdie besluit is eenparig deur die parlement aanvaar.

 

Die Sinti en Roma geniet dus nou ook dieselfde beskerming wat reeds aan die Deense- en Friese Minderhede toegeken is. Die Staat beplan om ‘n paneel te skep wat die belange van hierdie groepe sal aanspreek en wat ook die kanse op werksgeleenthede van die jongmense van genoemde groepe, sal bevorder.

 

Die voorsitter van die Sentrale Raad van die Duitse Sinti en Roma, mnr Romani Rose, het opgemerk dat hierdie optrede, Duitsland nou in lyn bring met die bepalings van die Europese Unie, wat al geruime tyd aandring daarop, dat al 27 lede-State , nasionale-, streeks en plaaslike strategieë moet uitwerk om die Roma bevolking te akkommodeer.

 

Die teenwoordigheid van Sinti en Roma groepe is reeds in die 15de eeu in Sleeswyk-Holstein aangeteken. Tans woon daar ongeveer 70,000 lede van hierdie groep in Duitsland, waarvan 5 000 in Sleeswyk-Holstein te vinde is. Die meeste hiervan woon in die twee groot stede Kiel en Lübeck, en in die buitewyke van Hamburg.

 

Baie van hulle is swak geskoold en leef van staatswelsynstoelae. Die Duitse Staat het dus nou die geleentheid om die bepalings van die VN se Deklarasie oor Minderheidsregte van 1992, ten uitvoer te bring. ‘n Kaart van Sleeswyk-Holstein is hierby aangeheg.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.