Die Voorblad

A+ A A-

Die Afrikaner se verlede, toekoms en die vrye mark

Die Amerikaanse presidentsverkiesing is reeds ou nuus. Baie Afrikaners wat dit gevolg het, het kandidate beoordeel op hulle verbintenis tot die vrye mark as beginsel. Veral die staat se mediese sorg het onder skoot gekom. Wie welvaart skep, lui die argument, kan private mediese sorg betaal.

 

Vryheidsgesinde Afrikaners is geneig om baie sterk hieroor te voel. Die mislukking van Suid-Afrika se welsynstaat maak dat hulle die vrye mark tot primêre beginsel verhef. Gestel die mark was strykdeur Suid-Afrika se oorheersende beleidbepaler. Vroeg in die twintigste eeu het ‘n armblanke vraagstuk ernstig kop uitgesteek.

 

Daar was nie meer plase vir jong Afrikaners nie en die meeste was vir geen ander ekonomie toegerus nie. Blanke werkers het ‘n voorkeurposisie in die myne geniet en vele Afrikaners is só van ellende gered. Mynbase wou arbeid deur die mark laat reguleer, wat direk tot stakings in 1922 en die eerste NP-geleide regering in 1924 gelei het.

 

Onder die nuwe regering het “Suid-Afrika Eerste” ekonomiese en kulturele beleid bepaal. Die spoornetwerk is uitgebrei, staatskorporasies soos Yskor en EVKOM het groot happe uit die begroting geneem en Afrikaans is as amptelike taal in al sy funksies ontwikkel, alles strydig met wat die mark sou bepaal.

 

Tydens die depressie is armoede bestry deur sosiale werkskepping. Onderwys en opleiding is op ‘n reuse skaal, en in Afrikaans, aangebied. Boere is met navorsing en wetenskaplike voorligting, maar ook subsidies, op hulle plase gehou.

 

Die wat verstedelik het, is in groot getalle deur die Spoorweë, munisipaliteite en ander simpatieke werkgewers onder staatsbeheer opgeneem. Soos wat vermoë toegeneem het, is die vlak van bemagtiging verhoog. Gesondheid en onderwys was nie inkomstebronne nie, maar beleggings in die welsyn en toekoms van die staat.

 

‘n Openbare gesondheidstelsel is geskep wat die nederigste werker, maar ook ‘n premier na ‘n sluipmoordpoging, versorg het. Onderwys het nie net skoolkinders bevoordeel nie, maar ook skoolverlaters wat, mits hulle potensiaal getoon het, onderwysbeurse kon kry.

 

Party het van onderwys ‘n gerespekteerde loopbaan gemaak. Ander het dit as afspringplek gebruik om elke denkbare rigting in die akademie en ekonomie te betree. Talle wêreldklas Afrikaners is deur onderwysbeurse uit beloftelose armoede gelig.

 

As die vrye mark strykdeur regeringsbesluite moes rig, was Suid-Afrika vandag grootliks ongeïndustrialiseer. Die ekonomie sou deur ‘n agterlike landbou- en kwynende mynbousektor oorheers wees. Ekonomiese ontwikkeling sou bykans uitsluitlik rondom die Witwatersrand en hawestede plaasgevind het.

 

Afrikaans sou slegs in armoedige en onder-ontwikkelde kontekste gehoor word. ‘n Klein persentasie Afrikaners sou in 2012 welvarend gewees het. Die welvarendes sou Engels as huistaal gehad het. Trouens, die ANC sou in die 1960’s al aan bewind gekom het.

 

Die verlede bewys dat die groot vraag is of ‘n hardwerkende burgery die kanse wat gebied word, aangryp. Dan kan soveel meer as welvaart geskep word.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.