Die Voorblad

A+ A A-

Hoë skuldvlakke en ‘n kultuur van spaar

Ekonomiese nuus word die laaste tyd deur die stadige pas van herstel gekenmerk. Wêreldwyd, maar ook in Suid-Afrika, word gesukkel om van die laaste jare se insinking te herstel. Syfers is abstrak en buite die gewone huishouding se beheer, sodat dit soos die weer en ander natuurkragte gade geslaan word.

 

Tog is dit kultureel bepaalde besluite van miljoene mense wat in hierdie syfers neerslag vind. Hoewel die enkele persoon of huishouding moeilik ‘n verskil kan maak, moet noodsaaklike kultuurveranderings presies daar begin.

 

‘n Faktor wat die ekonomie tans rem, is die hoë vlakke van huishoudelike skuld. Veral ongesekureerde skuld is só hoog, dat huishoudings min het om te bestee. Hierdie skuld word gewoonlik aangegaan om luukshede te betaal en ‘n hoë lewenstyl te handhaaf.

 

Die gevolg is dat die eiendomsmark pap is en huispryse in reële terme daal. Selfs die huurmark kry swaar. Hoewel die minister van handel en nywerheid dit ontken, is daar ekonome wat beweer dat die buitensporige looneise wat die land steeds destabiliseer, hieraan te wyte is.

 

Opsommend kan gesê word dat huishoudings arm word in hulle pogings om ryk te lyk. Dit herinner aan ‘n aantal ou boerewyshede waarmee spandabelriges oor die geslagte gekapittel is, soos dat ‘n mens jouself nie kan ryk koop of ryk leen nie.

 

Die moderne ekonomie kan moeilik funksioneer sonder finansiering wat stabiliteit en welvaart skep, maar betaalvermoë en die doel van die lening moet bepalend bly. Sulke strengheid is nie gewild in ‘n tydsgees wat onmiddellike behoeftebevrediging tot iets eerbaar, en perkelose verbruik tot ‘n deug verhef nie.

 

In dié tydsgees is indiwiduele behoeftes en begeertes die hoogste gesag en die mark die enigste plek waar waarde bepaal word. Geloof en lojaliteit aan familie, gemeenskap en volk, word aan hierdie oordeel onderwerp. Die kerk, skool, of watter gemeenskapsinstelling ookal, word diensverskaffers wat in hul spoor moet trap.

 

Om vir iets te spaar of dit geleidelik op te bou, voel na onnodige moeite. Dié waardes staan in skrille kontras met dié wat ekonomiese opbou en groei tot gevolg gehad het. Welvarende Afrikaners het in ‘n vorige era die uitdaging opgeneem om ‘n groot deel van hulle volk uit ekonomiese ellende te red.

 

Vir instellings soos Volkskas, Sanlam, Federale Volksbeleggings en talle ander was wins nie die rede vir hulle bestaan nie, net ‘n voorwaarde daarvoor. Die rede was om die beperkte bronne waaroor Afrikaners beskik het, te ontsluit om ekonomiese, kulturele en politieke bemagtiging te bewerkstellig.

 

Om vir iets te ywer wat groter as die mens self is, gee sin aan die lewe. Welvaart is nie net ‘n bron van luukshede nie, dit is die mag om ideale te help verwesenlik. Dit is die geleentheid om te dien en by te staan, op ‘n manier wat sonder welvaart nie moontlik sou wees nie.

 

Dit is om besittings as ‘n gawe van God te sien, iets waaroor die mens net rentmeester kan wees. ‘n Kultuur wat geld van lewensdoel tot hulpmiddel reduseer, is ‘n beter benadering tot die lewe. Dit sal ook oneindig help om die ekonomie te laat herstel.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.