Die Voorblad

A+ A A-

In gesprek met Baron Klaus von der Ropp

Dit was ‘n warm dag in Desember 1975 toe Baron Klaus von der Ropp saam met ‘n toergeselskap die Namibwoestyn aangedurf het. Soos die noodlot dit wou hê het die bestuurder van die voertuig nie aangedui waarheen hy die toergeselskap neem nie.

 

Die gevolg was dat toe die voertuig onklaar raak in die woestyn die toergeselskap gestrand gesit het in een van die mees genadelose woestyne op aarde. Baron von der Ropp het saam met die bestuurder te voet vertrek om hulp te gaan soek, maar nadat die drywer besluit het om terug te keer na die voertuig toe, het Baron Klaus verder die woestyn inbeweeg met die hoop dat hy hulp sou vind.

 

As ‘n toeris in die onbekende, maar genadelose woestyn het hy nie besef dat hy al dieper en dieper in die woestyn ingeloop het nie en al verder en verder van werklike hulp. 92 Uur later en naby sterwend is Baron Klaus von der Ropp gered deur Peter Stark ‘n destydse weermaglid en bobaas spoorsnyer.

 

Met slegs sy skoene, kortbroek en krokodilvel beursie het Baron Klaus die dood gefnuik en sou hierdie gebeurtenis ‘n reuse invloed op sy lewe hê.

 

Tot vandag speel Peter Stark ‘n uiters belangrike rol in sy lewe as die persoon wat hom van ‘n gewisse dood gered het en met elke besoek aan Suid-Afrika is Peter Stark een van die persone wat Baron Klaus von der Ropp besoek.

 

Hier betuig hy telkens dank teenoor Peter vir wat daardie dag, amper 37 jaar gelede gebeur het. Baron Klaus von der Ropp is gebore in 1938 in Letland, maar sy vroeë kinderlewe sou total omvergegooi word deur die tweede wêreldoorlog. As deel van ‘n minderheidsgroepering is hulle weggeneem uit hulle wonings en hervestig in onder andere Pole en Duitsland.

 

Hulle besittings, waaronder grond, is hulle ontneem en Klaus se familie is met amper niks na Duitsland verskuif. Sy vader was ‘n krygsgevangene en dit was ‘n baie moeilike tyd vir hom en sy familie.

 

Dit is juis as gevolg van sy ondervinding en wedervaringe as deel van ‘n minderheidsgroep, dat Baron Klaus von der Ropp die Afrikanersaak verstaan en nugter tog reguit sy boodskap aan die Afrikaner probeer oordra.

 

Na sy studies en omswerwinge het Baron Klaus von der Ropp die grootste gedeelte van sy lewe betrokke gebly by die Duitse Stigting vir Wetenskap en Politiek en dis ook deur hierdie werk van hom dat hy betrokke geraak het by die politieke situasie in Suid-Afrika en ook deelgeneem het aan die besprekings in Dakar in die laat tagtigerjare.

 

Hier het hy onder andere Breyten Breytenbach en Van Zyl Slabbert ontmoet wat later sou lei tot ‘n jarelange vriendskap. Deur die jare het Baron Klaus deurentyd betrokke gebly by die politieke situasie in Suid-Afrika en was hy ook een van die EU getuies wat die Akkoord vir Afrikaner Selfbeskikking tussen die Vryheidsfront die ANC en die Nasionale Regering (NP) op 23 April 1993 onderteken het, slegs dae voor die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.

 

Die aanloop hiertoe het gekom deur betrokkendheid by besprekings wat in die sewentig en tagtigerjare plaasgevind het.

 

In sy eie woorde vertel hy van die geleentheid in Julie 1977 waar Egon Bahr, die voorste Duitse denker op buitelandse- en sekuriteitsbeleid gesê het: “One man one vote is not the answer, partition does not work, and there should be equal living together, with special protection for minorities.”

 

Die betrokkendheid van Brittanje loop soos ‘n dun verweefde draad deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar veral die rol van die Britte in die val van apartheid, tree volgens Baron von der Ropp sterk na vore.

 

Met vrese van kommunistiese oorname in Suidelike Afrika, het die Britse regering al hoe meer senuweeagtig geraak oor beleggings in Suid-Afrika. Verder wou of kon hulle nie die sowat 1 000 000 Britte in Suid-Afrika, terugverwelkom in Brittanje, sou hulle uit Suid-Afrika moes vlug nie.

 

Die val van die Berlynse Muur en daarmee saam Kommunisme, het die vrese van kommunistiese oorname laat verdwyn, maar die dryf na verandering in Suid-Afrika deur sommige Europese lande, het al hoe sterker geword.Apartheid is geklassifiseer as ‘n misdaad teen die mensdom en het die vure na verandering in Europa aangeblaas.

 

Daar word genoem dat De Klerk met ‘n besoek aan Brittanje met Premier Maggie Thatcher vergader het, waar sy hom in geen onseker terme laat verstaan het dat Brittanje ‘n verandering soek en dat daar indringend gekyk word van hulle kant af, hoe om die skroef stywer aan te draai, om sodoende verandering te bewerkstellig.

 

Baron von der Ropp sê dit is duidelik dat die destydse President F.W. de Klerk onvoorbereid in die KODESA onderhandelings ingegaan het en meer prysgegee het as wat hy tot voordeel van sy mense onderhandel het.

 

Die invloed van Britse betrokkendheid en die druk op F.W. de Klerk deur Brittanje word ook genoem as ‘n bydraende faktor tot die onbeholpendheid waarmee die NP die onderhandelings hanteer het.

 

Baron von der Ropp het op versoek van Max de Preez, destydse Redakteur van Die Vrye Weekblad in Oktober 1989 ‘n berig gepubliseer wat voorspel het dat ‘n Afrikaner Israel ‘n tweede Lebanon kan verhoed.

 

Hy vertel dat in Mei 1977 die toenmalige visie-President van Amerika, Walter Mondale ‘n bittere woordewisseling met John Vorster gehad het en die Wes-Duitse Kanselier Helmut Schmidt probeer oortuig het om die Suid-Afrikaanse regering te forseer om af te sien van apartheid.

 

Helmut Schmidt se vraag; “En waarmee vervang jy dit?” het talle onkant betrap, insluitend Walter Mondale. In die laat tagtigerjare was die skrif egter aan die muur, dat apartheid nie in sy huidge vorm staande sou bly nie en samesprekings het op verskeie vlakke begin vorm aanneem, met selfs Nelson Mandela wat President P.W. Botha in Tuynhuis ontmoet het.

 

Daar het tot vredesgesprekke tussen die UDF/Cosatu en die IVP plaasgevind en wat as ondenkbaar bestempel was, het ‘n moontlikheid geword.

 

Met die konstante druk uit Amerika en veral Brittanje was daar net een pad vorentoe en dit was na die onderhandelingstafel toe, maar daar word beweer dat dit nie was as onderhandelaars nie, maar eerder as marionette van hulle meesters.

 

Geskiedenis wys egter dat De Klerk en die NP nie voorbereid of opgewasse was teen die ANC nie en dis hier waar die problem vorm aangeneem het.

 

Met die vrese van beleggings en Britse burgers in gevaar in hierdie land gedurende die onstuimige tagtigs, is dit veral interessant om op te let dat dieselfde situasie wat tans stabilitiet in Suid-Afrika bedreig, geensins weer dieselfde geraas opwek uit Brittanje, Duitsland of Amerika nie.

 

Die vraag kan tereg gevra word, hoekom een situasie verandering moes teweegbring, maar dieselfde situasie 25 jaar later onder ‘n ANC regering ongesiens verbygaan en as melaats beskou word. Is hulle burgers en beleggings verskans teen die onstuimige Marikana geweld of Julius Malema se uitsprake, of is die witman verwyder toe dit nodig was en die huidige swart bewind meer beheerbaar as die vorige regering?

 

Baron von der Ropp beweer dat sekere individue en groepe in Duitsland en Brittanje nie wil erken dat hulle verkeerd was om deel te neem in hierdie veldtog van verandering nie en daarom eerder stilbly of die volstruismetode gebruik. As ek dit ignoreer, dan bestaan dit dalk nie.

 

Dit is veral skokkend om te sien dat op dieselfde dag van die Marikana slagting op 16 Augustus 2012, die Duitse Media ‘n berig gedra het oor ‘n wurm teler van Stellenbosch. Hoe is dit dat die Europese media dit belangriker ag as die slagting wat plaasgevind het by Marikana?

 

Baron Klaus von der Ropp het met hierdie besoek van hom aan Suid-Afrika een duidelike boodskap saamgebring. Die tyd is verby vir onderlinge gevegte tussen Afrikaner groeperinge.

 

Die tyd is verby vir praat en die tyd is hier vir doen. Sy eie ondervinding rakende die benadeling van minderheidsgroepe laat hom die gevaarligte sien vir die Afrikaner en hy voel dat indien die Afrikaner aanhou op dieselfde pad as wat hy nou is, is die toekoms vir die Afrikaner donker.

 

Baron von der Ropp noem ‘n Toevlugsoord as ‘n moontlike oplossing vir die toekoms van die Afrikaner. Hy voel dat alle Afrikaner groepe raakpunte moet vind en ooreenkom op ‘n kaart of die posisionering van ‘n grondgebied wat ontwikkel kan word tot voordeel van al die groeperinge wat die visie tot ‘n toevlugsoord deel.

 

Sonder hierdie samewerking sal die Afrikaner net al meer gemarginaliseer word, todat hy op die einde ingesluk sal word en sy geskiedenis en kulturele bestaansreg verdwyn.

 

Die wat wil bly kan bly, maar daar moet ‘n toevlugsoord opsie wees vir die Afrikaners wat wil groei in ‘n omgewing waar hulle nie verdruk word nie en waar daar ‘n werklike oplossing gebied kan word vir hulle groei en hulle voortbestaan.

 

Die gevoel dat daar ‘n nuwe KODESA moet wees rakende hierdie kwessie, wat insluit grond en bestaansreg, word al hoe meer gefluister en mag dalk net die antwoord wees.

 

Of mens saamstem met Baron von der Ropp of nie, die feit is dat Afrikaners moet begin hande vat en saamstaan om ‘n werkbare oplossing te vind vir die bedreiging van sy bestaansreg, geskiedenis, kultuur en voortbestaan.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.