Die Voorblad

A+ A A-

"Dis nou ek" - Prof Carel Boshoff se outobiografie

Die Voortrekkermonument se Galery 2020 was behoorlik gepak met akademici, politici en teoloë - almal het gekom om ‘n glasie te klink op prof. Carel Boshoff se outobiografie, ‘Dis nou ek’. Sy seun, Carel Boshoff (IV) het tereg opgemerk ‘dit is nou ‘n partytjie wat my pa terdeë sou geniet het.’

 

Onder die bekendes was prof. Marinus Wiechers (bekende regsman), Kallie Kriel (Afriforum), prof. Danie Goosen (voorsitter van die FAK), dr. Marieta Snyman (Lapa-uitgewers), dr. Pieter Mulder (adjunkminister van Landbou en leier van die VF Plus) en ander.

 

Dan was daar die Boshoff familie, elkeen ‘n uitblinker op sy eie gebied. Die jongste toevoeging tot die Boshoff familie, klein Anna, het dadelik gaste en media se hart gesteel terwyl sy rustig op haar pa se arm gesit en nuuskierig rondgekyk het.

 

Sy is ‘n week voor prof. Boshoff se dood gebore. Gaste is deur prof. Willem Boshoff, dosent in Teologie aan Unisa, verwelkom waarna dr. Marieta Snyman van Lapa-uitgewers klem gelê het dat dié uitgewers met die bekendstelling van die boek, besig is om geskiedenis uit te dra.

 

Wynand Boshoff, die jongste broer, wat gehelp het om die boek te struktueer, vertel dat die familie prof. Boshoff op verskeie geleenthede gevra het om ‘n outobiografie te skryf. “’n Jaar na my ma se dood in 2008, het hy ‘n skootrekenaar gekoop en sy eie storie begin skryf. Hy was 80 jaar oud.

 

Die boek, wat eintlik drie boeke regverdig, het sy lewensverhaal uitgebeeld, sy betrokkendheid by die kerk, sy verbintenis met kultuurorganisasies soos die Voortrekkers, sy politieke loopbaan en natuurlik die Afrikaner se voortbestaan.”

 

Maande voor prof. Boshoff se dood het hy die rekenaar aan Wynand oorhandig met 500 getikte bladsye. Vandaar het seun en pa elke middag vir ‘n maand lank aan die boek gewerk.

 

“Ek is so bly vir ons tyd saam want ek kon hom alles vra wat ek wou weet.” Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK het die politieke denke van prof. Boshoff ontleed en verduidelik hoe hy gestalte gegee het aan die volkstaat-gedagte wat nou ‘n lewende erfenis vir die Afrikaner is.

 

Carel Boshoff (IV) het oor sy pa se avonture gepraat en hom aangehaal dat die mens nooit die krag van die lewensdrift moet onderskat nie – ‘n filosofie wat prof Boshoff ten volle uitgeleef het.

 

Later, na afloop van die formaliteite, het mense in groepies rondgestaan en hul ervarings van prof. Carel, soos hy bekend gestaan het, gedeel.

 

Party vertel van sy uithouritte te perd, ander weer van sy oranje fiets waarop hy in Orania rondgery het, ander weer van sy leergierigheid – op 80 het hy ingeskryf vir ‘n wynmakerskursus, ander weer van die liefdevolle oupa wat hy was…

 

Die boek ‘Dis nou ek’ word deur Lapa uitgegee en is by boekwinkels beskikbaar.

 

Foto: Jaco Mulder VF Plus leier in Gauteng saam met Dr Wynand Boshoff en klein Anna Boshoff

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.