Die Voorblad

A+ A A-

ANC-regering, opposisiepolitiek en die Afrikaner

Baie Afrikaners is onder die vals indruk dat slegte nuus vir die ANC goeie nuus vir die Afrikaner is. Daarom verlekker hulle hulle in stakings, tweespalt en betogings oor swak dienslewering. Sekere opposisiepartye slyp hulle tande vir ‘n regeringsverandering; indien nie 2014 nie, dan 2019.

 

Uit Afrikaneroogpunt is dit soos verdrinking in óf die Indiese óf Atlantiese Oseaan. Laat ons eers na die moontlikheid van regeringsverandering kyk. ‘n Dryfveer van die ANC se bevrydingstryd was die opvatting dat Suid-Afrika “genoeg het vir almal”.

 

‘n Bose stelsel kanaliseer welvaart na blankes en laat ander groepe met net genoeg om te oorleef. Verander die stelsel, en almal het genoeg. Met die oog daarop was ANC-beleid tot net voor 1994 nasionalisering van myne en ander groot besighede.

 

Deels omdat die ANC tot ‘n skikking gedwing is en deels omdat leiersfigure van mening verander het, het dit nie staatsbeleid geword nie. Ervaring elders in Afrika het ‘n rol gespeel.

 

Uit die oogpunt van werkloses en laagbesoldigde werkers, het min verander. Hoewel seker ryk gesigte voortaan swart was, het hulleself al minder van die ekonomiese koek ontvang.

 

Die eerste reaksie was die afdanking van oud-president Thabo Mbeki. Die huidige president, Jacob Zuma, kon alle ontevredenes oortuig dat hy hulle griewe sou oplos. Omdat hy dit, die onmoontlike, nie kon regkry nie, word hy aan dieselfde ondermyning onderwerp.

 

Suid-Afrika is aan ‘n globale ekonomiese stelsel gebonde, wat die armstes wêreldwyd benadeel. Dit is ook nie ‘n land van fabelagtige rykdom nie. Elkeen wat welvaart soek moet opgelei en hardwerkend wees.

 

As anti-Zuma faksies hom vervang, sal die gevolg waarskynlik nie beter regering wees nie, maar verhoogde onstabiliteit en meer gefrustreerde verwagtings. Tot dusver was die werklike Suid-Afrikaanse opposisie faksies binne die ANC.

 

Gestel dié party stort in duie, soos sommiges hoop, sal die volgende party met dieselfde werklikhede gekonfronteer word. Boonop is dit nie asof munisipale rade onder opposisiebeheer vry van korrupsie of swak regering is nie.

 

Maar veronderstel vir ‘n oomblik ‘n nuwe regering roei korrupsie uit en ag bekwaamheid belangriker as lojaliteit. Dan is Afrikaners steeds minder as vyf persent van die bevolking.

 

Afrikaners se taal, kulturele waardes en algemene welsyn sal vir ‘n volgende regering so onbelangrik as vir die huidige regering wees. Vir Afrikaneridentiteit om lewenskragtig te bly, moet ekonomiese selfstandigheid en politieke selfbeskikking nagestreef en verwerklik word.

 

Dit is ‘n sentiment waarby baie Afrikaners aanklank vind, maar in praktyk bevorder hulle persoonlike welvaart en sterker opposisie. Verkiesings is die mees gesaghebbende meningspeilings wat daar is.

 

Betogings kan georganiseer word, maar as die ANC meer as sestig persent van die stemme kry, word aangeneem dat ontevredenheid nie té erg is nie.

 

Afrikaners neig om vir die sterkste opposisie te stem, al bied dit geen ruimte vir selfbeskikking nie, of om uit protes weg te bly. Dié keuses word as verwerping van selfbeskikking gelees.

 

Afrikaners moet nie bloot vir opposisie nie, maar vir selfbeskikking mobiliseer.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.