Die Voorblad

A+ A A-

Die Wet op Tradisionele howe

Dit is verrassend om te besef hoeveel belang Afrikaners by die voorgestelde Wet op Tradisionele Howe het. Op die oog af is die teenoorgestelde waar. Min Afrikaners woon in die gebiede waar hierdie howe jurisdiksie sal hê en dié soort regspraak lê buite Afrikaners se tradisies.

 

Trouens, Afrikaners is juis trotse erfgename van die heersende Romeins-Hollandse reg. Tog behoort Afrikaners nie aan die koor van teenstand teen hierdie wetgewing deel te neem nie. Laat ons eers die agtergrond beskou.

 

Toe blankes Afrika binnegekom het, het swart Afrika ‘n gevestigde stelsel van regspraak gehad, wat rondom die stamhoof gesentreer het. Waar Afrikaners en Britse gesagvoerders geheers het, is verskillend op die tradisionele reg gereageer.

 

In die Boererepublieke is swart stamme gelaat om hulleself so ver moontlik volgens hulle eie tradisies te regeer. In die Britse kolonies is wel van tradisionele strukture gebruik gemaak in sogenaamde Indirect rule, maar daar is gepoog om Afrika-tradisies met die Westerse kultuur te vervang.

 

So is onderwys gebruik om swart kinders van hulle stam-identiteit te vervreem. Tradisionele regspraak is as agterlik beskou en doelgerigte pogings is aangewend om dit te ondermyn. Swart stamhoofde is onder gesag van Engelse “magistrate” gestel en kon nie onafhanklik optree nie.

 

Vir baie swartmense was dit ‘n statussimbool om sodanig te verwesters dat hulle onder koloniale reg kon val. Vir die meerderheid was die Westerse reg egter vreemd en onbegryplik.

 

Die Nasionale Party se verguisde beleid van afsonderlike ontwikkeling het onder meer ingehou dat regspraak ‘n sentrale deel van enige kultuur beskou is. Daar is gepoog om tradisionele reg liewer te versterk en in staat te stel om moderne situasies te hanteer, as om dit te vernietig.

 

Dit was ‘n eerlike poging om koloniale kultuurroof met herontdekking en aanpassing van eie kultuur te vervang. Liberale geesteswetenskaplikes en politici maak hulle skuldig aan ‘n bepaalde vorm van chauvinisme.

 

Dit is om hulle eie opvattings en stelsels as verhewe bo alle ander te beskou. Daarvolgens doen hulle lede van ‘n ander kultuurgroep ‘n guns deur inheemse stelsels met hulle eie te vervang. Deur hierdie mense is die NP-regering se pogings om inheemse Afrika regstelsels te help ontwikkel, as rassisties beskou.

 

Hulle eie kulturele aggressie is as “gelykheid voor die wet” voorgehou. Met herinlywing van die tuislande, het inheemse reg sy formele status verloor. Kultuurgebonde mense is in ‘n slegter posisie as tevore, omdat hulle beregting slegs in ‘n vreemde, ontmagtigende omgewing kan soek.

 

Dit is regstelling hiervan wat deur die huidige wetsontwerp nagestreef word. Natuurlik moet dit aan die gewone fynkam onderwerp word om te verseker dat dit nie tot vergrype of onreg lei nie, maar liberale drukgroepe ril by die blote beginsel daarvan.

 

Dieselfde liberale denkbeelde wat nie ruimte vir tradisionele reg het nie, het ook nie ruimte vir Afrikaners se strewe na selfbeskikking nie.

 

Aanvaarding van ‘nregsprekende raamwerk naas die heersende, is ‘n belangrike stap om die verskeidenheid van Suid-Afrika se kulturele landskap te erken. ‘n Erkenning wat noodsaaklik is voor Afrikaners hulle selfbeskikking kan herwin.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.