Die Voorblad

A+ A A-

Julius Malema, stakings en Afrikaners

Die enigste wenner in die wanorde sedert die Marikana-skietery, is die afgesette leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema. As egte populis haas hy hom van skare tot skare en skep die indruk dat alles anders sou wees as daar volgens sy insig regeer is.

 

Dit herinner aan die huidige president wat aan bewind gekom het deur elke drukgroep te laat glo sy regering sal hulle hulle sin kan gee. Dit is natuurlik nie moontlik nie en nou word President Zuma met dieselfde soort veldtog gekonfronteer.

 

Die ekonomiese implikasies van stakings wat buite beheer raak, word druk in die media bespreek. Militante vakbonde skep vir werkgewers en die owerheid ‘n probleem, maar daar is darem iemand om mee te onderhandel; wat werkers kan oortuig om ooreenkomste te eerbiedig.

 

Splitsing van vakbonde en werkers wat weier om enige vakbond se gesag te aanvaar, skep wanorde, wat onstabiliteit en onsekerheid kweek, wat die ekonomie strem.

 

Nie onverantwoordelike leierskap of uitgerafelde vakbondwese behoort vir ernstige waarnemers verrassend te wees nie. Suid-Afrika is al dekades lank berug vir die gaping tussen ryk en arm. Sedert 1994 het dié gaping vergroot.

 

‘n Ryk, swart elite is wel geskep, maar terselfdertyd het werkgeleenthede verlore gegaan. Die staat- en semi-staatsektor het van bykans alle ongeskoolde poste ontslae geraak, en dié mense tot die werklose massa gevoeg.

 

‘n Onvolhoubare werklikheid is geskep, waarin ‘n onbegrypende elite as’t ware vra, as daar nie brood is nie, hoekom eet hulle nie koek nie. Min waarnemers vra waar dit Afrikaners laat. Die antwoord is natuurlik dat niemand regtig weet nie.

 

Afrikaners is oral in Suid-Afrika ‘n magtelose minderheid. Die voor- of teenspoed van die omgewing is ook die voor- of teenspoed van die Afrikaner. Ekonomiese ineenstorting, of dit volg op die huidige wanorde of op ander faktore, sal vir Afrikaners rampspoedig wees.

 

‘n Belangrike vraag is op wie die massas, wat nie die glo dat hulle die vrugte van bevryding smaak nie, hulle woede gaan uitstort. Sal die wat nie werk het nie, dit op werkendes uitstort, of laag besoldigde werkers op hoog besoldigde “struggle”-veterane, of gefrustreerde werkers op werkgewers, of sal etniese geweld losbars?

 

Die slegste moontlike prentjie is die van Rwanda in 1994. Tutsi’s het hulleself oor eeue as ‘n heersersklas bo Hutu-boere gevestig en hulle gesag afgedwing.

 

Oral waar hulle gevestig was, was hulle ongeveer vyftien persent van die bevolking. Bevolkingsgroei het só toegeneem dat die ekonomie dit nie meer kon absorbeer nie.

 

Teen daardie agtergrond het haatspraak teen Tutsi’s toegeneem en ‘n volksmoord is onder die oppervlak beplan. Toe ‘n vonk die kruitvat tref, is diep gewortelde verwyte oor die verlede losgelaat om ‘n miljoen Tutsi’s en Hutu’s wat van dislojaliteit verdink is, binne honderd dae te vermoor.

 

Die Afrikaner sal homself van ‘n magtelose minderheid tot ‘n volk met een of ander mate van selfbeskikking moet transformeer.

 

Dit beteken om nie net vir burgerregte te mobiliseer nie, maar ook bevolking te konsentreer en selfbeskikking in politieke raadsale na te streef. Soos Suid-Afrika tans ontwikkel, kan net ‘n dwaas veilig voel.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.