Die Voorblad

A+ A A-

Opportunistiese misbruik op sy beste

Die Lonmin-debakel bring ‘n hele nuwe kleur en geur na die politieke tafel. In ‘n gesprek ‘n jaar gelede is aan president Jacob Zuma voorgestel dat hy ernstig daaraan moet dink om van die klein jakkalsies in sy midde ontslae te raak. Die grootste van die klein jakkalsies natuurlik, ene Julius Malema.

 

Die president het kort daarna so gemaak en ons almal ken die geskiedenis. Nadat Malema dit daarna eers reggekry het om Zuma, die regering en die hele regstelsel te manipuleer en te reduseer, is hy uiteindelik uit sy amp as leier van die ANC se jeugliga geskors.

 

Maar is hy? Het Malema mag verloor of het dit hom juis meer mag gegee? Die arrogansie waarmee hy omgaan en die misbruik van gesag en mag om munt te slaan uit die dood van 44 mense by Lonmin se Marikana aanleg spreek van ‘n wellustige, Mugabe-agtige politieke agenda.

 

Nie dat mens dit nie van hom verwag nie, want het hy nie reeds die ou oom ‘n jaar of wat gelede omarm en openlik verklaar dat hy die Mugabe-regime steun nie? Nie te lank gelede nie, is onse eie president weer in die oor gefluister dat Malema stilgemaak sal moet word.

 

Mens weet nie of daar gelusiter of gehoor is nie, maar dis duidelik dat die president nou met ‘n veel groter Malema-dilemma opgeskeep sit as ‘n jaar of wat gelede. Malemaisme neig reeds om af te stuur op rewolusionere aksie.

 

Die wyse waarop Malema homself aanwend en aangewend het in die Lonmin-tragedie spreek van opportunistiese politiekery waarin mense nie geag word nie. Lewens is van geen waarde nie, finansiele en ander verlies is nie van belang nie.

 

Al wat saak maak is sy egoistiese pogings om selfverryking en magsbehebtheid. En terwyl die media (lees internasionale media, veral) hulle patetiese rol vervul om sensasionele berigte die wereld in te stuur, het hulle dit misgekyk dat die unies wie die myners verteenwoordig wat daarop aanspraak maak dat hulle slegs R3500 per maand betaal word, daaroor gelieg het.

 

Hulle salarisse is nader aan R9000 per maand, maar tipies sekere ewig-verontregtes reken hulle nie dat belasting en ander aftrekkings deel van die pakket is nie.

 

Terwyl die wereld intussen in afwagting sit om te sien wat gaan gebeur om die onderhandelingstafels, en die geweld reeds uitkring na ander myne, misbruik Malema die situasie verder om verlore politieke aansien te herwin.

 

Maar dalk is dit juis die vonk wat die Suid-Afrikaanse kruitvat nodig het om die politieke speelveld gelyker te maak. Dis dalk net die lont wat die bom in die meerderheidsregeringsgeledere gaan aansteek en die breuk bring wat die oorwig gaan versteur.

 

Geen land wat ‘n diktatoriale bestel aankleef het onbepaald gewerk nie. En dit sal ook nie. Idi Amin het uiteindelik gesneuwel, so ook onlangse diktators soos Muhammar Ghaddafi. Word Suid-Afrika dan nie maar op soortgelyke wyse bestuur nie?

 

Verryk die regering hulle nie ten koste van die burgers van die land nie? Steel regeringsamptenare nie die staatskoffers leeg nie? Is bedrog in die sakewereld en elders nie aan die orde van die dag nie?

 

Vier misdaad nie hoogty op alle vlakke in die samelewing nie? Het die verweer nie al so ver gevorder dat veral die jeug in die kettings van morele verval vasgevang is nie? Mense word maklik deur die media mislei en gebreinspoel.

 

Dis maklik om te glo alles is wel, terwyl net een kant van die waarheid aan jou opgedis word. Ek glo Malema is sterker daaraan toe as wat hy was voor sy skorsing. En dis goed so. Miskien is dit goed dat die regerende party se magsbasis gebreek word.

 

Malema se enigste oorlewing is om ‘n eie politieke party te stig. Dit sal noodwendig ‘n skeur in ANC-geledere teweeg bring, wat nodig is om politieke balans te herstel. Dit is dalk net wat nodig is om Suid-Afrika in 2014 reeds na ‘n koalisie-regering aan te dryf.

 

Vergesog? Nee, ek glo nie. Die mense van hierdie land, oor alle grense, gaan hulle nie vir veel langer deur politieke opportuniste aan die neus laat rondlei nie. En vir seker, sal die ANC nie in hierdie land regeer tot God weer kom nie.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.