Die Voorblad

A+ A A-

Het Marikana enigiets oor Afrikanervryheid te sê?

Die tragedie by Lonmin se Marikana-myn sal nog lank en uit verskillende hoeke bespreek word. Tot dusver is dit nog nie uit die hoek van Afrikanervryheid ontleed nie. Dit kos ‘n lang draai om dié twee bymekaar te bring. Die Suid-Afrikaanse samelewing toon sterk feodale kenmerke.

 

Feodale stelsels word deur ‘n persoonlike band tussen mense gekenmerk. Die een is onderhorig en is diens verskuldig, terwyl die ander gesag het en beskerming gee. Wedersydse lojaliteit is die veronderstelling. ‘n Feodale samelewing kan teenoor ‘n eksterne bedreiging ontstaan, wanneer mense met kritieke vermoëns magsposisies verkry.

 

In die Bybelse Josef-verhaal lees ons hoe oorvloedige voedsel opgegaar en later verkoop word. Wanneer mense geen ander betaalmiddel het nie, staan hulle eers hulle grond en later hulle vryheid af. Nog ‘n moontlikheid is wanneer vyandige aanvalle militêr begaafdes in magsposisies stel.

 

Hulle fokus op oorlog, terwyl onderhoriges vir hulle lewensmiddele sorg. Wanneer die bedreiging afgeweer is, duur die gesagsverhouding voort. ‘n Feodale samelewing kan ook ontstaan wanneer invallers hulle gesag op ‘n bevolking afdwing.

 

Die oorwinnaars word ‘n bevoorregte bo-laag van die samelewing, wat arbeid en goedere van die res eis. Dit kan met óf sonder vergoeding wees. Somtyds vestig daar selfs onderlinge solidariteit, lojaliteit en eenwording.

 

So is Rusland gevestig deur ‘n Skandinawiese bo-laag wat sy gesag oor ‘n Slawiese bevolking afgedwing het, maar mettertyd deur die Slawiërs opgeneem is. Geen feodale samelewing is permanent nie. Soms verplaas ontwikkeling en verstedeliking die feodale samelewing, soos in Engeland.

 

Soms word die juk gewelddadig en rewolusionêr afgegooi, soos in Frankryk en Rusland. Beide volg op tallose onsuksesvolle opstande. Feodale heersers was telkens geskok oor die barbarisme wat met sulke opstande gepaard gegaan het.

 

Hulle het geglo dat die onderhoriges aan hulle lojaal was en besef het dat dié stelsel ook in hulle eie belang was. Soms het hulle onderdanige instemming met lojaliteit verwar, soms was onderhoriges werklik lojaal aan die indiwidue, maar vol wraakgedagtes oor ‘n stelsel wat hulle geslag na geslag onderdruk het. Negentiende eeuse Rusland en twintigste eeuse Suid-Afrika is dalk die enigste lande waar feodale samelewings verstedeliking kon oorleef.

 

Vir Suid-Afrika geld dit veral vir huishoudelike werkers en die myne. In die myne is daar geen skyn van lojaliteit nie, maar die ongelyke magsverhouding bestaan steeds. Werkers se enigste hefboom is gesamentlike optrede; soms vreedsaam, soms bloedig soos by Marikana.

 

Die verband met Afrikanervryheid? In stad en platteland; plase, huishoudings, myne en fabrieke, was Afrikaners vir geslagte lank ‘n feodale heersersklas. Nie eers die politieke rewolusie van 1994 het dit beëindig nie. Dit sal nie veel langer voortduur nie.

 

As Afrikaners nie politieke vryheid met ‘n oop en vrye samelewing gaan nastreef nie, gaan hulle verswelg word. Die opgeboude woede en frustrasie van ‘n feodale onderklas is nie mooi om te aanskou nie.

 

Marikana 2012 demonstreer dit so duidelik as Sharpeville 1960 of Soweto 1976. Om van plaasmoorde nie te praat nie.

 

Foto: IOL - Business Report

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.