Die Voorblad

A+ A A-

Die hoop beskaam nie

Die krisis in Europa is nog lank nie verby nie. Terwyl kenners en analiste weekliks hulle lied verander oor hoe die krisis opgelos word, of nie, sit ons in Suid-Afrika nie afgesonder van die nagevolge van die ekonomiese krisis nie.

 

‘n Krisis wat maklik kan oorspoel tot ander wêreldmoondhede en selfs ontwikkelende lande soos Suid-Afrika in die moeilikheid kan laat beland. Of sal dit?

 

Terwyl die een na die ander finansiële hulplyn na sukkelende lande soos Griekeland uitgewerp word, is daar nog nie naastenby genoeg gedoen om die Europese krisis hok te slaan nie. Verskeie lande in die Europese Unie loop gevaar om bankrot te gaan.

 

Spanje, Italië, Griekeland is in die gevaarsone terwyl die sterkste moontheid, Duitsland, begin stuiptrekkings kry oor die voortdurende hulpverlenings wat verskaf moet word. Uiteraard is dit so dat die groter lande soos Brittanje, Duitsland en Frankryk moet uithaal en wys om die euro nie te laat kantel nie.

 

Die euro? Interessant dat in Suid-Afrika talle stemme opgegaan het tydens die totstandkoming van die geldeenheid, veral uit Christen-geledere, oor hoe die wêreld kwansuis in ‘n enkele moontheid omskep gaan word, met een geldeenheid, een New Age beweging.

 

Wat is die kans dat dit nog kan gebeur en hoe raak dit ons aan die veiligste punt van die wêreld?

 

Baie van ons ouer garde moes ons ou gewoontes en gedagterigtings opoffer en reuse-veranderinge aan ons denk- en bestaanrigtings aanbring om die nuwe demokrasie te laat werk … om dit te laat aanhou werk verg selfs meer van daardie onverskrokke durf en daad.

 

Maar terwyl die regering van die dag talle foute maak met verreikende gevolge vir die land se ekonomiese toekoms, doen hulle ook goed wat reg is. Ons het immers die grootste ontploffing van die 2008 ekonomiese resessie vrygespring.

 

Ons het staande gebly te midde van chaos in Europese en ander lande. Een wêreldgeeldeenheid kan en sal nooit werk nie. Een wêreldregering kan en sal nooit werk nie.

 

As Zoeloes en Xhosas nie altyd langs dieselfde vuur sit nie, en Afrikaners nie met mede-Afrikaners oor die weg kan kom nie, hoe op dees aarde kan ‘n Amerikaner en ‘n Iranees aan dieselfde juk trek?

 

Ons praat van ‘n Babelse verwarring onder mense… dit is presies wat gebeur het toe die Here die massas wat aan die toring van Babel gebou het - om God se mag oor te neem - tot verwarring gebring het.

 

Toe God hulle in verskillende tale laat praat het en die wêreldgeskiedenis in een moment verander het deur mense uitmekaar te laat spat, elkeen in sy eie taal, sy eie indentiteit. Een wêreldmoondheid is niks anders as nog ‘n Babelse poging om deur die mag van geld, die mag van God te probeer oorneem nie.

 

Dit is nie moontlik nie. Nooit nie. En die Europese krisis het lank nie uitgewas nie. Daar gaan nog baie salvo’s gevuur word, en ons moet dankbaar wees dat ons aan die eindpunt van Afrika sit.

 

Ons moet dankbaar wees dat ons, te midde van ‘n wanordelike bestel – veral op plaaslike en streeksregeringsvlakke – steeds die hand van die Here oor Suid-Afrika kan ervaar. Dat ons steeds ‘n regering het wat finansiële wysheid aan die dag lê en gelê het toe die krisis op sy grootste was.

 

Suid-Afrika sal weer die grootste gevaar afweer, en al byt Europese lande in die stof, het ons steeds die voordeel van ‘n Groter Hand wat oor ons waghou.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.