Die Voorblad

A+ A A-

Vredesooreenkoms in Suid-Soedan

Die oud-Suid-Afrikaanse president, Thabo Mbeki, het in die afgelope weke ‘n deurbraak gemaak om vrede en moontlike voorspoed in Suid-Soedan te herstel. Suid-Soedan is die jongste staat in Afrika en op ‘n nippertjie na die jongste in die lys van mislukte state.

 

Die wel en wee van Suid-Soedan is vir Afrikaners onverwags belangrik. Soedan, eens die grootste staat in Afrika, het oor die eeue as ‘n aantal onafhanklike emirate en ander politieke eenhede bestaan. Egipte het dié groot gebied in die laat negentiende eeu met Britse hulp verower en dit as “kondominium” verenig en saam met Brittanje regeer.

 

‘n Gewelddadige opstand is in 1898 deur die bekende Lord Kitchener onderdruk deur waterputte te seël en guerilla-vegters van dors te laat omkom. Toe Soedan in 1956 onafhanklik geword het, het dit ‘n Arabies-oorheersde Moslemstaat geword.

 

Swart mense in die drie suidelike provinsies (oorwegend Christene of aanhangers van tradisionele Afrika-godsdienste) het uit die staanspoor diskriminasie gevrees. Daarom het hulle (vergeefs) vir federalisme of selfs afskeiding geywer.

 

Die groot haakplek was dat die staat se belangrikste inkomstebron, olie, juis in die suidelike provinsies ontgin is. Dit is dan per pyplyn na die noorde en uiteindelik die res van die wêreld vervoer.

 

Die noorde was van die olie afhanklik en die suide het nie oor die infrastruktuur beskik om dit te verkoop nie. In 2011 is dekades van onderdrukking, geweld en selfs volksmoord beëindig toe Suid-Soedan onafhanklik geword het.

 

Mnr. Mbeki het as bemiddelaar ‘n deurslaggewende rol gespeel om dié etniese konflik deur gebiedskeiding te besleg. Die nuwe staat het egter bykans onoorkomelike probleme in die gesig gestaar.

 

Eerstens word Suid-Soedan deur talle etniese groepe bewoon wat tevore in hulle weerstand teen die Islamitiese noorde saamgesnoer is, maar voortaan ‘n gemeenskaplike doel sou moes nastreef. Tweedens is die ekonomie met Soedan s’n verstrengel deur die werklikheid van olie en pyplyne.

 

Desember 2011 het Suid-Soedan die oliekraan toegedraai, omdat Soedannese heffings op vervoer te hoog was. Vir maande lank was beide lande sonder inkomste.

 

Selfs emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het die gebied besoek en aan die Christelike Suide duidelik gemaak dat hulle swaarkry nie aan God toe te skryf is nie, maar aan hulle eie aksies. Uiteindelik kon mnr. Mbeki die twis bylê, hoewel die vrede steeds wankelrig is.

 

Die koloniale grense van Afrika, wat vir dekades onaantasbaar was, is reeds die tweede keer gewysig. In albei gevalle was dit etniese groepe wat van ‘n multi-etniese staat afgeskei het. In Suid-Soedan het ‘n swaargewig in die anti-etniese ANC ‘n deurslaggewende rol gespeel.

 

Die taboe is gebreek en dit kan weer gebeur. Nog ‘n belangrike saak is dat Suid-Soedan net kon afskei omdat die etniese groep wat verdruk was, ook in ‘n gebied gekonsolideer was. Daarsonder sou volgehoue volksmoord waarskynlik hulle deel gewees het.

 

Verder moet ‘n formule nog gevind word om politieke skeiding met ekonomiese integrasie te versoen. Verskillende, maar versoenbare etniese groepe moet ook saamstaan om van ‘n meerderheid af te skei.

 

Suid-Soedan se boodskap is dat Afrikanervryheid uitvoerbaar is, maar genadelose eise sal stel.

 

Foto: guardian.co.uk

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.