Die Voorblad

A+ A A-

Rugby is nie ‘n spel vir sissies nie

Ek hoor die ander dag ‘n man gesels oor sy rugbydae. Toe “rugby nog rugby” was vertel hy. Omdat ek nuusskierig gebore is, soos ouma Magriet altyd gese het, kom ek toe maar my aangebore plig na en vra hom om sy stelling so effe te verduidelik.

 

Nee, reken hy, toe hy nog gespeel het – dit kon voor die Tweede Wereldoorlog gewees het – was die manne nog van staal gebou. Hulle kon nog die eise van die spel deurstaan, hulle kon straf uitdeel en straf ontvang. Dit was die dae toe die ooms Boy en Fanie Louw nie net karakters in ‘n David Kramer-liedjie was nie.

 

Toe Frik du Preez nog “strate deur die Engelse” kon hardloop. En nog later toe Ray Mordt sommer drie keer in ‘n wedstryd deur die All Blacks gemaal het. Ja, dit was rugby. Goeie ou dae. En ek wou nie met die man stry nie, want sien ek het as opkomende rugbyspeler op skool, ewe veel van vioolspel en klavier gehou.

 

En dan wou ek nog tik as skoolvak neem ook. Dit sou van my ‘n uitgeworpene maak in ‘n plattelandse nedersetting waar die ooms en tannies nog gedink het Elvis Presley was ‘n loskopvoorry. Toe ek besef die buitenste duisternis is my voorland het ek ook maar gaan rugby speel.

 

Dit het my sommer gehelp om oor my vrees vir die vroulike geslag ook te kom, want hulle het nogal gehou van ‘n outjie wat draaie om sy teenstaanders gehardloop het. Het die doellyn geken. Wat hulle natuurlik nie geweet het nie is dat dit uit vrees was om getekkel te word.

 

Ala Naas Botha. So, ek het so effens met die spel te make gekry totdat my loopbaantjie eendag as ‘n senior speler deur ‘n Springbokvoorryman tot halt geroep is. Ons het truie geruil en ek het nooit weer teruggekyk nie.

 

Dit laat my met ‘n agterstand wat die oom duidelik nie gehad het in sy dae toe die “manne nog manne” was nie. Nou weet ek nie waarmee vermaak ons ou volkie hom naweek na naweek nie, want dit wat ek die laaste paar jaar op die kassie gesien het lyk nie vir my na netbal nie.

 

As ek sien hoe die manne mekaar vat, dan sien ek hel op aarde. Dan sien ek dat my laaste wedstryd ‘n vroee waarskuwing was vir wat ‘n dekade of drie later sou gebeur. Ysters my oom, ysters.

 

Vandag se spelers sou hulle ewekniee van 20 jaar of langer gelede aan flarde gespeel het. Dit was omtrent net Ray Mordt wat soos vandag se speirtiere gelyk het. Goed, miskien nog so paar ander. Hulle het dit dalk net mooi weggesteek.

 

Miskien het Naas Botha ook so rif spiere oor sy maag gehad soos Pierre Spies. Wie sal weet? Die Bakkies Botha’s, en Brian Habana’s van vandag kan nie met die ou manne vergelyk word nie. Neewat, ek dink dis veiliger om eerder geen vergelykings te tref nie.

 

Dis verskillende eras, met twee doellyne ligjare van mekaar verwyder. Goeie spelers en helde was hulle gewis, maar nie in die klas van die hedendaagse rugbyspelers nie. Die spel is vandag baie harder en groter as ooit.

 

Wanneer ‘n speler miljoene rand betaal word om sy lyf op die spel te plaas vir sy brood-en melkbestaan, dan moet jy weet hy het die vermoe om daardie lyf in stand te hou. Ek wil nie eers vandag op ‘n rugbyveld stap op ‘n stil Maandagmore nie.

 

Dis al te naby aan verlede Saterdag se pyn en lyding. Die spel het soveel verander en so vinnig geword dat die ooms nie eers agtergekom het die manne is nou EERS manne nie. Hoeka gedink, my oom, dat nie ek of jy op ons dag se spel ‘n bloue duit sou maak teen vandag se brekers nie.

 

Rugby bly rugby, en dit bly lekker. Veral met ‘n kouetjie voor die TV, dankie. Dis gevaarlik om enigsins nader aan die spel te kom. En pale toe, ek hoop die Stormers maak dit vir ‘n slag in die Super-15.

 

Wie weet, dalk kies Heyneke Meyer nog ‘n seun uit die suide om saam met die 12 Flou Bulle in die Groen-en-Goud op te draf.

 

Foto: Springbokspan 1906 in Brittanje - Genslin

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.