Die Voorblad

A+ A A-

Op reis na menswees

Ek sit die ander dag en dink aan dit wat ek in die lewe al gedoen het. Wat ek bereik het of nie bereik het nie, en waarvoor mense my eendag sal onthou. Terwyl ek glad nie gelukkig was oor die gevolgtrekkeing waartoe ek gekom het nie, het dit my nogal opgeval dat ons nie juis meer leef nie.

 

Ons bestaan meer dikwels net. Mense gee nie meer vir mekaar om nie, wat nog van hulself? Ek het ‘n loopbaan prysgegee om by my kinders te kon wees in hul opgroei-jare. Dit was vir my van meer belang om langs die rugby-, of krieketveld te staan en my seuns aan te moedig.

 

Om te kyk hoe hulle ontwikkel en om hulle te help om die druk van die lewe, wat so dikwels op jong presteerdes gelaai word, te hanteer. Dit was my keuse om eerder landloopbyeenkomste by te woon, atletiek, netbal en na kooropvoerings te gaan luister.

 

Om skoolkonserte by te woon, al het my kroos nie die hoofrol vertolk nie. En prysuitdelings, al was hulle nie altyd onder die beste nie. Ek het verkies om my kinders groot te maak volgens die Woord van God. Hulle het geweet wat dissipline behels, en al het ek soms oordrewe opgetree, neem nie een van die vier my vandag kwalik nie.

 

Inteendeel, spog ek met vier suksesvolle, gebalanseerde, pragtige jong mense. In ruil daarvoor het ek ‘n lewe in die musiekbedryf prysgegee.

 

Ek het ‘n loopbaan in die hoofstroommedia deur my vingers laat glip, en ‘n paar ander geleenthede laat gaan om dalk goed ryk te word, omdat ek verkies het om eerder my kinders te ondersteun. En sou ek weer voor die keuse staan, twyfel ek nie: ek doen dit weer.

 

En soms voel ek tog of ek erens gefaal het, want ek moes baie meer vir hulle gedoen het. Ek het nie genoeg trane afgevee nie en nie genoeg geluister nie. Maar water onder die brug keer nooit weer terug nie.

 

‘n Rivier vloei nie stroomop nie en ons kan die verlede nie verander nie. Wat belangrik is, is dat die toekoms in ons hande lê. Dat ons beheer daaroor het en verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, ongeag ons ouderdom of omstandighede.

 

Ons kan niks bereik sonder die genade van die Here nie, of sonder om Hom die Hoof te maak in ons lewens nie. Daar is baie mense wat dieselfde kwalifikasies as ons besit. Baie sal graag wil doen wat ons doen. Maar net onsself het beheer oor ons eie lewens.

 

En daardie lewe is nie net dit wat jy doen voor die rekenaar nie, of op kantoor, of op die sportveld, of wanneer jy jou motor bestuur nie. Dis die lewe in jou hart, nie in jou bankrekening nie, maar dit wat in jou siel aangaan.

 

‘n Tyd gelede is twee Amerikaners ter dood veroordeel en in ‘n skrywe aan hulle familie en die owerhede die aand voordat hul vonnis voltrek is skrywe hulle die volgende:

 

“Ons het nooit liefde in ons ouerhuise geken nie, ons het nooit dissipline geken nie, ons is nooit geleer om lief te hê nie, daarom aanvaar ons dat ons lewens beeindig moet word om te betaal vir die gruwelike misdade waaraan ons skuldig bevind is. Maar die grootste rede dat ons as jong mense moet sterf, is omdat ons nooit God geken het nie en nooit as kinders van die Here vertel is nie”.

 

Wat gaan vandag in Suid-Afrika se siel aan? As ons nie daarmee gelukkig is nie, wat doen ons om dit te verander? Ons skryf maklik ‘n CV en vertel hoe wonderlik ons is, maar hoe voel ons wanneer ons die resultate ontvang van mediese toetse en dis nie so goed nie?

 

My verhaal (CV) vertel van kinders wat nie perfek grootgemaak is nie, al het ek probeer om ‘n gebalanseerde ouer te wees. Vandag probeer ek om elke oomblik te luister en nie net te praat nie.

 

My werk mag nooit weer in die pad staan van die mense om my nie, my kinders, my vriende en bowenal, my God en geloofslewe. Ons werk is nie alles nie! As ons skielike te sterwe kom, wat beteken ons dan?

 

Ons is nie die middelpunt van die aarde nie, ons moet leer om te luister, om op te daag, om meer te lag, en om ‘n goeie, ware vriend vir ons vriende te wees. Gee iets weg, jou tyd aan welsyn of jou ou klere aan die armes.

 

As jy dit nie in ses maande gedra het nie is die kans goed dat jy dit ook nie in die volgende halfjaar gaan dra nie. Dis so maklik om ons lewens te mors, en dan te dink ons lewe. Ons mors maande, weke, dae, ure, minute.

 

Laat elke oomblik tel, maak reg wat jy verbrou het, gaan se jy’s jammer, vra vergifnis, gee terug van wie jy gevat het, stop en ruik die blomme, hou jou voete langer in die modderpoel na die reenwater, gaan stap in die reen, gee so nou en dan ‘n bord kos weg, wat jy in elk geval as vanselfsprekend aanvaar.

 

En lees weer vir ‘n slag ‘n boek, en jou Bybel. Sit net in die son en se dankie vir die lewe wat God jou gegee het. Sommer op die sypaadjie. Laat ons eindbestemming een wees waarvoor ons onthou sal word, hierdie is nie ‘n oefening nie, dis die ware lewe!

 

Dis tyd dat ons te midde van ons omstandighede weer begin om gelukkig te wees, Dis immers waarvoor God ons geskape het.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.