Die Voorblad

A+ A A-

Dis die klein jakkelsies wat die wingerd verwoes

Ek ry nou die dag in Pretoria in die rigting van oom Paul se standbeeld toe twee skoolbussies by my verby ry. Sou mens dit nou mini-bussies noem, of sommer asbussies? Omdat ek die pad redelik gewoond is, weet ek waar om so effe stadiger te ry om darem so twee van die twaalf-duisend-en-tien verkeersligte op pad stad toe groen te kry, waar om snelstrikke te verwag, en hoe om die twee miljoen spoedwalle op pad daarheen te benader.

 

Maar, wat ek nie geweet het nie is hoe maklik twee skool bussies jou hele ritbeplanning omver kan werp. Net nadat die voertuie by my verby is, nader ons ‘n verkeerslig by die Wonderboomkruising.

 

En voordat hulle tot stilstand kom by een van die talle rooi ligte op die roete, trek daar eers ‘n springmielieboks, toe ‘n koeldrankblik met ‘n lekkergoedomhulsel kort op sy hakke, by die venster uit.

 

As deel van die 67 minute wat ons aan oom Nelson Mandela moet afstaan vir sy verjaardagvieringe, stop ek en tel die vullis op. Dit was welliswaar ‘n paar weke vroeg, maar dit was die moeite werd. Ek oortree toe die verkeersreels en ry die linkerste baan aan die linkerkant van die pad binne: heeltemal links, verby die geel strepe.

 

Ek kon my geluk nie glo toe ek sien die venster waar die confetti uitgevlieg gekom het, is wawyd oop nie, met grinnende gesigte binne. Dit was nie eers nodig om by my kar uit te klim nie, so naby was ek aan daardie venster toe ek die vullis daardeur teruggooi en aan die rommelstrooier sê ek gee graag terug wat sy verloor het.

 

Die uitdrukking op haar gesig was prysloos. En natuurlik het sy, voordat die lig groen geword het, ‘n gratis les in opvoedkunde ontvang. Ek kry toe voorwaar genoeg kans om die bestuurder van die asbussie ook te vertel dat hy nie te trots op sy skool behoort te voel oor wat pas gebeur het nie.

 

Hy was so kwaad vir my dat die bussie se enjin gestol het. Ek dink hulle staan nou nog daar. Op soortgelyke wyse het ek ‘n paar jaar gelede die wonderlike voorreg gehad om ‘n bestuurder van ‘n kraaknuwe Mercedes-Benz op die mooiste pad in die Wes-Kaap te vermaak.

 

Die mannetjie jaag die dag teen ‘n duiseligwekkende spoed by my verby tussen Pringlebaai en Rooiels en gooi een van die Kolonel se bokse by sy venster uit. Nou ja, my duinebesie, die mooiste in die land, kon self die pad vat Gordonsbaai toe. Dit was nie lank nie of ons haak onsself aan die sportmotor se agterbuffer.

 

Ons het die kortpaaie om die draaie teen die berghange geken. En die geluk was weer aan my kant, want by die tweede verkeerslig in Gordonsbaai trek ek links van die neef in en vra hy moet sy elektroniese venster oopmaak.

 

Later het ek gedink dat ek darem nie heeltemal so onaantreklik kon gewees het as wat my eks altyd gese het nie, want die spoedvraat het sonder aarseling sy Duitste karretjie se venster laat sak.

 

Hy’t natuurlik nie geweet waaroor dit gaan nie, totdat ek die ou spulletjie wat hy in die fynbos verloor het, by sy venter ingooi en se: “Ek dink jy het hierdie pakkie verloor.” Die ou was uiters taalvaardig. Ek kon minstens vyf van die tale verstaan waarin hy my gevloek het.

 

Dit het so maklik geword om die wet te oortree. As kinders en volwassenes ewe maklik vullis by ‘n kar se venster uitgooi, hoekom dan nie sommer die volgende wet ook oortree nie? Hoekom is dit dan snaaks as mense mekaar vermoor of padwoede die oorhand kry?

 

Miskien het dit tyd geword dat ons by die klein dingetjies begin soos om kinders te leer om die wette van die land te gehoorsaam. En dan is daar natuurlik die ouerlike plig om ons kroos op te voed ook.

 

Dit is dalk die grootste probleem van die hedendaagse dag. ‘n Opgevoede kind word ‘n opgevoede volwassene. En vir elke probleem is daar ‘n oplossing. Dit moet net gevind word.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.