Die Voorblad

A+ A A-

Diens. Of dienslewering.

Dis ‘n onbekende woord in Suid-Afrika. Ek probeer die afgelope weke iemand opspoor wie my ‘n beskrywende, werkbare verduideliking kan gee van wat die woord “diens” dan veronderstel is om te beteken, maar niemand kon met ‘n suksesvolle verduideliking vorendag kom nie.

 

So, aan die hand van ‘n paar persoonlike ondervindinge probeer ek om my eie vraag te beantwoord. Diens is veronderstel om ‘n positiewe impak te hê op die persoon of persone aan wie dit gelewer word. Dit behoort mense se begrip van die wêreld waarin hulle lewe te veraangenaam, te verbeter.

 

Dit behoort die persoon wie die diens lewer goed te laat voel wanneer hy of sy tot die besef kom dat die dienslewering suksesvol was. Diens is die handeling van ‘n behulpsame aktiwiteit, deur dus aan iemand ‘n diens te lewer.

 

Diens word dan die verskaffing van ‘n aktiwiteit deur die diensverskaffer, wat deur die publiek benodig word om ‘n transaksie of handeling suksesvol te voltooi.

 

Mens kan seker ook argumenteer dat dienslewering die hantering van ‘n georganiseerde sisteem, apparaat of personeel kan wees om ‘n bepaalde funksie, soos verlang deur die publiek, te verrig. Miskien is dit nie vergesog om te redeneer dat dienslewering die vermoë kan wees om suksesvol met ander te kommunikeer nie.

 

Dit mag selfs beteken dat iemand in gereedheid moet verkeer om ander tot hulp te wees, wanneer en soos hulle (die publiek) dit verlang. Wie weet of dienslewering nie dalk die georganiseerde sisteem van diens en materiële hulpmiddels kan wees om aan die behoeftes van die publiek (koper?) te voorsien nie.

 

Dit kan ook beteken dat die diensverskaffer te allle tye in ‘n staat van beskikbaarheid moet verkeer om deur die publiek gebruik te mag word. Ek weet beslis dat dit die optrede of wyse van dienslewering aan en teenoor kliënte in ‘n hotel, restaurant of enige ander onderneming insluit.

 

Dan natuurlik is daar staatsdepartmente, wat almal veronderstel is om diensleweraars te wees. Hulle word immers deur die diensbehoeftiges betaal. Daar word selfs gesê hulle staan in die “publieke diens”.

 

Ons ken dié mense as publieke dienaars. Diens beteken dus kortliks om ‘n diens te verskaf, om jouself beskikbaar te stel om vir ander tot diens te wees, of om in diens van ander te staan. Nou wonder ek, hoeveel mense en besighede weet hiervan, gee om hieroor, pas enige vorm hiervan toe, en indien wel watter en hoe dikwels?

 

Wat is die standaard waaraan dienslewering gemeet word, of gemeet behoort te word? Wie weet? Wie besluit? Grens die verontagsaming van eenvoudig-verstaanbare waardes, norme en standaarde aan onverskilligheid, agterbaksheid, luiheid, ongewilligheid, onopgeleidheid, domheid, onnoselheid, kruheid, traak-my-nie-agtigheid, of sommer net “almal is so, waarom anders wees?”

 

‘n Dekade of wat gelede is ek verguis deur politici wie wou hê ek moes verskoning aanbied vir ‘n stelling wat ek destyds gemaak het dat ‘n opgevoede minderheid nooit ‘n onopgevoede massa sal kan ophef nie, maar die massa inderdaad die minderheid sal elimineer en tot hulle vlak verneder.

 

As ons dit nie eers kan regkry om aanspraak terug te eis en te behou en daarvoor te veg as dit oor dienslewering gaan nie, hoe kan enige mens, ongeag van ras, kleur of geslag, staande bly teen hulle wie die trein van aborsie, prostitusie, grondvergryping, diefstal van lewens, korrupsie en bedrog teen ‘n duiselingwekkende spoed laat voortsnel?

 

Dit is ononderhandelbaar, daardie trein moet en gaan ontspoor. Die vraag is: wie sal gereed wees om die stukke op te tel en die land te herbou? Miskien moet ons nie wag tot die ongeluk gebeur nie, en reeds begin optree.

 

Praat, rig skrywe, maak ‘n ophef, stel skuldiges aan die kaak, bring ongeruimdhede in die ope, verkla swak diens aan die hoofbestuur van maatskappye totdat hulle daardeur gedwing word om op te tree. Elkeen van ons het ‘n stem, die mag van demokrasie. Dit bestaan nie net vir party en nie die ander nie.

 

Mense gee te maklik boedel oor en aanvaar hulle omstandighede. Sies, ons moet in diens staan van ons medemens, onsself, ons gesinne en families, ons vriende ons kliënte. Begin vandag, die resultaat gaan sigbaar, hoorbaar en onuitwisbaar word.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.