Die Voorblad

A+ A A-

Politici behoort aan te tree vir die Comrades maraton

Die Comrades maraton het my vanjaar opnuut laat wonder oor die struikelbokke in die pad van ons nie-meer-so-nuwe demokratiese Suid-Afrika. Of is ons mooi land ‘n demokrasie? Wat is demokrasie dan en hoekom verstaan so min mense met wie mens gesels die konsep daarvan nie?

 

Mense het uiteenlopende menings oor demokrasie en dit is juis ‘n hoeksteen van demokrasie … om te kan verskil. Dis voorts ‘n regeringsvorm wat gekenmerk word deur gereelde en vrye verkiesings.

 

Dit beteken nie om jouself oor te gee aan magsmisbruik, vergrype en verraad nie. Dit waarvoor elke Comrades-atleet opoffer, waarvoor hulle sweet en saamwerk, juis dit is ‘n voorbeeld van hoe ‘n demokrasie behoort te werk.

 

Ek dink dit sou ‘n goeie idee gewees het om elke politikus aan minstens een Comrades te laat deelneem voordat hy of sy hulle pos mag beklee. Toegegee sommige van hulle is reeds moeg en der dagen sat, maar ek het manne gesien wat die moordende maraton voltooi het wie net-net jonger as oom Nelson Mandela kan wees.

 

Dus kan oom Jacob Zuma nog lekker aan die pret deelneem. Hy hou mos van pret en plesier. Die Comrades sal hulle leer oor verdraagsaamheid … om nie te probeer om meer te kla as die ou langs jou nie. Dit sal hulle leer oor geduld … iets wat om Thabo Mbeki nogal goed toegepas kon kry.

 

Om ‘n antwoord vir enigiets uit hom te kon kry was soos om ‘n non se baba op te gee vir aanneming. Hulle sou ook meer verstaan het oor naasteliefde … dis nie wanneer jy die naaste vrou of man aan jou vat en met haar of hom trou nie.

 

Dis ook nie om vandag saam met jou comrade om ‘n tafel te sit en hom more te verraai nie. Miskien sou politici beter verstaan het wat uithouvermoeë beteken … dit beteken nie om so lank in jou pos uit te hou totdat daar niks in die land meer oor is wat gebuit kan word nie.

 

Dalk sou sommige van hulle ‘n begrip gekry het van ‘n vegtersinstink, die wil om jouself te klop. En dis nie om elke ander ras as ‘n bedreiging te sien en omdat jy in vrees opereer, onskuldige mense te vermoor nie.

 

Hulle sou ook geweet het hoe om ‘n hand na ‘n ander uit te reik … dis nie om die ander op ‘n afstand te hou of met ‘n AK-47 in daardie hand nie. Om aan so strawwe wedloop deel te neem vra van die atleet die vermoeë om sy eie ek te verloën.

 

Dit sou verhoed het dat ‘n klein hoeveelheid “leiers” hulle tot so mate verhef bo die massas dat hulle nie omgee of hulle in ellende krepeer nie. Wie weet of hulle nie dalk te doen sou kry met akute pyn nie?

 

Dit sou hulle laat verstaan hoe dit voel as ‘n onskuldige mens in die loop van ‘n vuurwapen af kyk net voordat hy of sy nog ‘n statistiek van sogenaamde misdaad word. Hulle sou beslis meer geweet het oor hoe om ander te help en hul behoeftes te verstaan, ongeag van ras, geslag of status.

 

Dit beteken nie om op verbygaande motoriste te skiet wanneer jy teen ‘n duiselingwekkende spoed jaag en die wet oortree, net omdat jy kan nie. En hulle sou geweet het hoe om mekaar te verdra … nie omdat jy moet nie, maar omdat jy wil.

 

Ek kan sien hoe dit skepseltjies soos Julius Malema sal help om van die oortollige rolletjies ontslae te raak. Hy mag dit dalk net regkry om sy rykdom met die gepeupel te deel. Inteendeel, almal in die land sal by so wedloop baat kan vind.

 

Dit kan dalk net help om die strydbyle van die verlede te begrawe, om apartheid – wat omgekeerd erger is as ooit – aan die strot te gryp en uit te roei. Dit kan ons dalk leer om mekaar te respekteer, lief te hê en te verdra.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.