Die Voorblad

A+ A A-

Is dit kuns?

President Jacob Zuma het rede om ontevrede te voel oor die sogenaamde “Spear” verfwerkie wat van hom gemaak is. Of het hy? Terwyl geen mens tevrede behoort te wees om so ontbloot te word nie, wonder ek wat die president het om weg te steek?

 

Ek sou self aanstoot geneem het as iemand so baldadig wou wees om die naakte waarheid omtrent my private lewe uit te basuin. Maar ek het nie myself as ‘n openbare figuur op die altaar geplaas om geoffer te word nie. Die hoogste spiese vang die meeste wind.

 

Ek meen, die president spog darem die wereld deur met sy vele liefdes en krose wat al wat ‘n Suid-Afrikaanse onderneming is se belange oorneem terwyl ander nog in doeke loop. Google weet ook toe nie alles nie, my eksvrou weet baie meer.

 

Sy het eenkeer vertel dat geen soekenjin op die internet inligting kon verskaf oor presidente elders in die wereld wat so geseen is nie. Maar dure ondervinding het my geleer dat mens nie alles wat jy hoor vir soetkoek moet opeet nie, baie dinge moet maar met ‘n knippie sout geneem word.

 

Natuurlik glo ordentlike mense wie nog waardes handhaaf daarin om met een vrou op ‘n slag getroud te wees. Meeste van ons kry dit egter nie eers reg om troubeloftes te hou nie, so hoekom moet die president dan enige beloftes handhaaf?

 

Ek glo egter steeds dat sy menswaardigheid so effe verniel is. Mens stort nie jou sedes in die openbaar uit nie. Maar om darem nou te wil aanspraak maak dat die Spies-werkie ‘n rassistiese aanslag op die president of die regerende party is, is so lagwekkend as om te dink die Leeus gaan vanjaar die Super 15 rugbykroon dra.

 

Dis ook ewe absurd om te glo dat Brett Murray dink hy het ‘n kunswerk geskep. Is dit kuns? Mens moet dom wees om nie te glo dat Murray ‘n opportunistiese gaping gevat het om naam te maak nie. En dit het gewerk.

 

Maar steeds ‘n swak manier om enige mens se waardigheid af te takel, al is hy Michael Jackson, Prins Charles of Jacob Zuma.

 

Ons kan beter doen as dit. Insluitende die president, die sogenaamde kunstenaar en die gallery, asook die gepeupel wat altyd die gelag moet betaal.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.