Die Voorblad

A+ A A-

Diegene wat in Delmas vlae verbrand kan eerder hul energie vir Orania brand

Op 31 Mei vanjaar was dit die 110-jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. In lande regoor die wêreld word die oorlog en die herhinneringe aan diegene wat tydens die oorlog gesneuwel het, tans gedenk. Daar is min dinge wat my so mistroostig stem as om te dink oor die lewens wat so dikwels op afgryslike wyse verloor is.

 

Daar word soms op selfvoldane wyse deur Afrikaners op die bors geslaan wanneer ons ons gevegsvernuf van die verlede aanprys. Gevegte by of verbind met Vegkop, Bloedrivier, Majuba, Spioenkop, Magersfontein, Delvillebos, El Alamein, Cuito Guanavale ensovoorts word opgeroep en bykans soos wafferse Springbokwedstryde van weleer rondom braaivleisvure ontleed en aangebied om ons krygsvernuf te poets.

 

Om nie van die bykans mitiese status van die vorige bedeling se Recces, 1 Valskermbataljon en 32 Bataljon te praat nie. Daar is selfs diegene wat aanvoer dat generaal so-en-so van Amerika (of Engeland of Duitsland) dit-en-dat gesê het oor hoe wonderlik/vreesloos/slinks/hard/dapper ons soldate was/is.

 

Waarom dan voel en lyk dit asof ons elke geveg waarin ons betrokke was en wat saakgemaak het, sedert Bloedrivier verloor het? Die boom word aan sy vrugte geken en bolletjies kan nie vir vye verkwansel word as dit soos perdemis lyk en ruik nie. Ons volk is vandag in die kake van ‘n terminale siekte.

 

Ons word minder, kry minder kinders en voel minder aangetrokke tot ons mede volkgsgenote en ons geskiedenis as ooit in die verlede. ‘n Ongekende persentasie jong Afrikaners breek tans hul bande met familie en tradisie. Die gewildheid van Afrikanerskap onder Afrikaners sou baie laag op enige meningspeiling rangeer.

 

Wie het hierdie week nog aan die vrouens en kinders van die konsentrasiekampe gedink, en gedink aan wat ons vandag moet doen om te keer dat sulke kampe weer ons lot word? Is ons vandag (“verspreid soos babapoeier vanaf Tafelberg tot Soutpansberg”) enigsins veiliger as in 1902 toe meer as 400,000 Britse soldate Suid-Afrika beset het?

 

Daarmee saam is ons vandag uitgelewer aan geweld, misdaad en lae morele waardes soos nog nooit in enige tydperk van die verlede nie. Wie glo nog werklik dat ons as wenners (of ten minste gelykop) uit die Grensoorlog of die struggle getree het?

 

Kan ons ons hande in onskuld was oor ons sterftes en gevolge van die Engelse-oorlog, die Grensoorlog en die struggle op ons as volk? Wys ons geskiedenis nie dalk dat ons te dikwels probeer het om meer af te byt as wat ons kon kou nie?

 

Dalk het dit tyd geword vir ons om weg te tree van konflik af, om nie meer die Xhosas, Zoeloes, Matabele, Basotho, Engelse, mekaar, Duitsers, Kubane, Russe, Ovamboes of ANC-regering met ons vuiste (of blikkiesverf en plakkers) te probeer pak nie.

 

Ons is waarskynlik nie so goed met veg (of met rugby) as wat ons soms mag dink nie. Ons is ook nie heeltemal onskuldig aan die gevolge van die konflikte waarby ons willens en wetens betrokke geraak het nie.

 

Daar is en was immers genoeg kennis van konflik beskikbaar. Maar ons kan darem bou. Ons kon Suid-Afrika help opbou tot die juweel in die kroon van Afrika. Ons het al voorheen infrastruktuur en welvaart geskep waar daar eens niks was nie.

 

Dit kan ons weer doen. Nog beter, ons kan dit doen waar daar niemand anders is wat daarop aanspraak kan maak nie. Waar niemand anders se arbeid ons toekoms kan wegneem nie. Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker. In die sweet van ons eie aangesig is ons beveel om ons brood te verdien.

 

Nie oor die loop van ‘n geweer nie. En veral nie oor die rue van ander nie. Diegene wat in Delmas vlae verbrand kan eerder hul energie vir Orania brand. Dit is tyd dat ons met ‘n ander verhaal begin.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.