Die Voorblad

A+ A A-

Is Afrikanerskap so uitgedien soos 'n rooksein?

Piet Croucamp skryf onlangs in Rapport dat Afrikanerskap so uitgedien soos ‘n rooksein geword het. Hy meen “Afrikaners is byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste.” Ek wonder of die ironie van bogenoemde, dat sy persoonlike onverdraagsaamheid hom aan sy eie definisie van ‘n Afrikaner laat voldoen, hom ontsnap?

 

As akademikus beskik hy beslis oor die nodige vaardighede om bogenoemde te kan insien. Maar ongeag sy vermoë om bogenoemde te snap, is sy persoonlike mening rakende die toekoms van Afrikanerskap en sy deel daarin irrelevant, want hy word deur al die ander inwoners van Suid-Afrika, selfs die regering, as Afrikaner uitgeken.

 

Sien, toe die ANC ‘n gesprek met Afrikaners probeer aanknoop het, het hulle nie vir Christo van der Rheede, Danny Titus of Michael le Cordeur gekontak om die gesprek te fasiliteer nie. Nee, hulle het vir Piet Croucamp, Albert Venter en Willie Breytenbach gekontak.

 

Ek gee egter volpunte vir die fasiliteerders omdat hulle ook die ander lede van die Afrikaanse gemeenskap by die gesprek betrek het, want die bekommernisse van Afrikaners is wel ook die bekommernisse van alle Afrikaanssprekendes en die saak onder bespreking verdien meer gewig as dit wat slegs deur Afrikaners daarby gevoeg kan word.

 

Maar Afrikanerskap gaan nie verdwyn nie. Dit is nie ‘n kleed wat aan of uitgetrek kan word afhangende van hoe die winde waai nie. Jy is wat jy is en Piet Croucamp en Koos Kombuis sal albei tot in hul grafte Afrikaners bly, nie oor hoe hulle of selfs ander Afrikaners daaroor mag voel nie, maar oor hoe die res “buite die laer” daaroor voel.

 

Sien, individuele vryheid om te kies is ‘n Westerse konstruk waarvan die inhoud ons nie moet verlei met die mistasting dat ons ander kan oortuig dat ons keuses ons herkoms of karakter kan verander nie. Veral nie indien ons dade, soos Piet Croucamp se onverdraagsaamheid wys, die teenoorgestelde bewys nie.

 

Ja, as Afrikaners het ons baie probleme. Ons onverdraagsaamheid en in sekere gevalle (maar beslis nie alle nie) rassisme laat ons dikwels in die steek en wen vir ons meer vyande as vriende. Ons het alle invloed op die hefbome wat ons samelewing vorm verloor. Ons word geteiken vir rassistiese diskriminasie deur wetgewing.

 

Ons is min en minderwordend. Ons is, soos Flip Buys en Dirk Herman sê, ‘n ongewilde minderheid. Afrikaners het reiniging benodig, want ons het in selfvoldaanheid, trots en uitspattigheid verval, waarvan die endemiese uitbuiting van goedkoop swart arbeid om ons huise skoon te maak, ons klere te was, ons kos te maak, ons kinders groot te maak, ons ryk te maak, ons gemaklik te maak, ons grafte te grawe en weer toe te gooi, die skandaligste was (en ongelukkig in baie gevalle nog steed is).

 

Daar is egter groen lote wat bewys dat die boom se beste dae nog nie verby is nie. As Afrikaners het ons alle verwagtinge oortref in ons vermoë om met ons ander landsburgers saam te werk en by te dra tot hulle opheffing.

 

Na die trauma van ons verlies aan selfbeskikking, is ons ook besig om daarin te slaag om by nuwe omstandighede aan te pas. Ons beskik oor die mees aktiewe burgerlike organisasies soos deur die Solidariteitbeweging versinnebeeld en ons bou ons eie strukture om in ‘n nuwe omgewing weer beheer oor ons lot terug te neem.

 

Daarvan is die groeiende Orania ‘n sprekende voorbeeld. Ons is na die isolasie van die vorige bedeling ook besig om nuwe wêrelde te verken en ‘n groot verskeidenheid van ervaringe deel van die mondering van Afrikanerskap te maak.

 

Waneer ons getuig dat Afrikanerskap so uitgedien soos ‘n rooksein geword het, weerspieel dit ons persepsie van die werklikheid en nie die werklikheid self nie. Dit wys hoe ons dinge wil sien. Piet Croucamp sien duidelik twee dinge in Afrikanerskap; enersyds ‘n leë kruik wat hom as verbruiker niks bied waarmee hy homself kan verryk nie en andersyds ‘n bekleding waarin hy weersin het.

 

Soos reeds gesien is die beeld van ‘n kledingstuk wat mens wil uittrek en weggooi irrelevant, want hoe meer jy dit probeer uittrek en weggooi, hoe meer sien ander dit juis in jou raak. Die beeld van ‘n leë kruik verdien egter verdere betragting.

 

Dit is waar dat Afrikanerskap vir ons geen kaartjie meer is na die binnebaan vir hoogsbesoldigde leierskapsposte in die publieke, private en akademiese sfere nie. En dit is waarskynlik ook goed so. Vir te lank het mense met swak inbors hulleself as vrome Afrikaners voorgedoen bloot om daardie kaartjie te ontvang, en daarmee is die integriteit van Afrikanerwees ‘n gevoelige slag toegedien.

 

Dit is egter eenvoudig onwaar dat Afrikanerskap vir ons niks meer bied nie. Uit ons tradisie en verlede ontvang ons ‘n oneindige bron van inspirasie en hoop – byna soos die weduwee se kruik – van mense met pioniersgees en vindingrykheid, van godsvrees, toekomsvertroue, nederigheid en gewilligheid om terugslae en struikelblokke te oorkom.

 

Ons het ‘n taalskat, ‘n liedereskat en ‘n literatuurskat wat ons uit ons tipiese gasvryheid met die res van die mensdom deel. Afrikanerskap is ‘n kruik wat oneindig baie bied, maar soos prof. Carel Boshoff altyd gesê het, is elke geslag verantwoordelik vir sy eie tyd en is dit ook ons verantwoordelikheid om tot die kruik by te voeg sodat daar vir ons kinders en kleinkinders selfs meer sal wees om vir inspirasie uit te put.

 

Gaan ons ons verantwoordelikheid nakom deur die beste Afrikaners te wees wat ons kan wees, veral ook tot voordeel van ons medemense, of gaan ons ons verantwoordelikheid probeer ontduik deur soos Piet Croucamp voor te wil gee dat die kruik leeg is; dat Afrikanerskap uitgedien soos ‘n rooksien geword het?

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.