Die Voorblad

A+ A A-

Ons is immers in dieselfde span!

Ek staan alweer verstom oor ons land se rugbyafrigters. Nie te lank gelede nie het al wat leef en beef in die media die lof besing oor Heyneke Meyer, die nuwe Springbok rugbyafrigter. Meyer is byna as a nasionale held voorgehou, een wie “heeltemal te lank” uit die leierskorps van Suid-Afrikaanse rugby gehou is.

 

En tereg, die man is op sy kop. Hy is ‘n man uit een stuk, ‘n ware strateeg, ‘n afrigter wat nie skroom om dissipline toe te pas nie, en ‘n leier wie agting by sy korps afdwing. Of klink “afdwing” straks te kras? Soos ‘n Buurman van Zyl van ouds verdien Meyer die respek van die spelers omdat hy nie skroom om die lyn te trek oor wie in beheer is nie.

 

Hy is immers die man wie se kop op die blok gaan wees oor die volgende paar jaar. Skrywers die land deur het Meyer se lof besing terwyl hulle vertel het hoe swak sy voorgangers dan kwansuis sou gewees het. Was hulle?

 

Pieter de Villiers was alles behalwe ‘n swak ruggbyafrigter. Voor hom was die briljante Jake White ‘n man wat baie politieke houe moes verduur. En beide het later die teiken geword van dieselfde sportskrywers en politici. Ons vergeet maar gou dat White die ‘Bokke tot wêrerldglorie gelei het. En toe draai dieselfe “aanhangers” hulle rue op De Villiers en White.

 

Meyer kan verwag om dieselfde pad te stap. Intussen het hy sy eerste sarsie spervuur verduur toe hy aankondig dat Fourie du Preez sy keuse is as Springbokkaptein. Al is dit net ‘n “tydelike” stap, glo ek dit is een in die regte rigting.

 

So onlangs as vroeg vanjaar het verskeie huidige- en voormalige Springbokke Du Preez se “uitnemende” leierskap uitgewys as een van die grootste redes waarop die span se sukses gebou is. Het Du Preez nie sy heil in die buiteland gaan soek nie, sou min ondersteuners gewonder het oor die man se talente.

 

Was hy nie laasjaar nog die kroon van internasionale skrumskakels nie? Wat het dan verander? Inderdaad het die Blou Bul Francois Hougaard homself aangekondig, en soos die Vrystaat se Heinrich Brussouw ‘n jaar of drie gelede, die kenners en fynproewers laat regop sit met sy innemende spel.

 

Soos Brussouw op flank, het Hougaard nuwe standaarde kom stel vir skrumskakelspel. Inteendeel, die man is so briljant, dat hy selfs ‘n Springbokspan op haker sal haal. Oom Danie Craven het gesê as ‘n man goed genoeg is, is hy oud genoeg.

 

Hy het destyds na Naas Botha verwys, toe die jong blondekop puntemasjien op die ouderdom van 19 vir die ‘Bokke gekies is. Botha en Carel du Plessis was die enigste aktiewe rugbyspelers wie oom Danie in sy boek oor die beste 100 Springbokke na verwys het.

 

Hy het Botha as ‘n rugbygenie geprys. Dieselfde geld Hougaard. Hy is ligjare voor die res van sy internasionale en plaaslike teenstanders, maar hy is steeds nie Fourie du Preez nie. Gee hom kans om te groei, maar onthou, Du Preez kies nie himself nie.

 

Meyer is bevoorreg om sulke spelers tot sy beskikking te he. Die kritiek oor Du Preez se aanwysing as leier is die eerste negatiewe skote wat na Meyer afgevuur word. Daar kom nog baie, selfs uit die geledere van Blou Bulland. Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners is nie swape nie. Hulle verwag resultate. En kry hulle dit nie, kan die afrigter maar weer sy tasse pak.

 

Maar ek glo nie Meyer gaan enige toets druip nie. My verwagting is dat hy, soos Naas Botha, in die annale van rugby bekend gaan staan as een van die grootstes van alle tye. Behalwe dat Meyer ‘n ware Christen is, en nie skroom om dit te leef nie, is hy ‘n man wat nie huiwer om te gee nie.

 

‘n Mens na wie die spelers en afrigtingspan kan opkyk. Hy is ‘n man onder die manne wat weet hoe om ‘n gesin bymekaar te hou en deur geloof, hoop en liefde ‘n voorbeeld gaan stel vir die politici en skrywers wie so maklik die sweep uithaal.

 

Meyer gaan houe ontvang, maar hy gaan dit kan hanteer. Anders s ou hy nie die werk gevat het nie. As ek my geld op een man kon plaas wie Suid-Afrikaanse rugby tot die top van die kruin sal voer, dan het ons reg gekies. Gesinsman, leier, strateeg, dissipliner, maar mens. Ware mens. Kom ons gee hom en die ‘Bokke al die ondersteuning wat hulle verdien.

 

Kom ons kyk vir ‘n slag rugby en geniet dit saam. Ons is immers in dieselfde span!

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.