Die Voorblad

A+ A A-

Afrikaner armoede: Die blanke vraagstuk 2012 - Deel 2

3. AFHANKLIKHEID VAN ANDER: 

 

Hierdie is die derde skakel in die ketting van armoede. Jy kan nie meer belasting betaal nie, jy kan nie meer bydra tot die ontwikkeling van jou gemeenskap se ekonomie en vooruitgang nie en die belangrikste van alles is dat jy nie meer na jouself en jou gesin kan kyk nie. Wat gebeur nou?

 

Jy raak afhanklik van ander. Jy raak afhanklik van donasies van kos en klere wat dalk, as jy gelukkig is, een keer in twee maande in jou hande beland. Hoekom sê ek as jy gelukkig is? Dit is nie aldag dat gemeenskapsleiers, die kerke of politieke partye, soos die VF+, in die Wesmoot kos en klere kry om uit te deel nie.

 

Ons is ook maar afwagtend op skenkings vanuit erens in SA en sodra dit land word dit dadelik uitgedeel. As ‘n dag aanbreek, soos in Junie 2010 toe Witrivier boere met ‘n agt ton trok vol kos aangekom het, dan is dit letterlik Kersfees.

 

Die plaaslike skole in die gemeenskap is ook afhanklik van donasies en sorg dat elke kind in die skool in die middae voor huis toe gaan tyd ‘n volledige bord kos kry net sodat die kind nie honger moet gaan slaap nie maar in vakansie tye is hierdie middels nie daar nie en gaan slaap hierdie kinders honger. Partykeer is daar net broodtjies wat uitgedeel word.

 

Jy raak afhanklik van die breë gemeenskap daarbuite vir elke dag se oorlewing. Vir mense om daagliks te sit en wag vir kos en klere, is so goed soos ‘n gevangene in die tronk, eintlik erger want ‘n gevangene kry darem drie etes per dag. U sal egter nie die ware impak van armoede onder Afrikaners besef, totdat u self by hierdie aksies betrokke raak nie.

 

Ek nooi u uit om net eendag saam met my deur die gemeenskap te gaan en dan kan u vir u self sien wat aangaan. Moenie mense kritiseer en uitsprake maak soos :”Hierdie mense is net te lui nie”. Glo my hierdie mense sal werk soos donkies as hulle net die geleentheid daarvoor kan kry.

 

Elandspoort is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Daar bestaan nie meer ‘n ekonomiese stelsel in hierdie voorstad nie. Geld word nie meer deur ‘n volgehoue salaris verdien en dan spandeer by die plaaslike besigheid nie. Nee geld word nou verkry deur by die verkeerslig te bedel of donasies wat verkry word en die geld word dadelik deur die betrokke huisgesin opgëet.

 

Dus is daar nie meer ‘n ekonomiese kringloop nie. 97% Van Elandspoort se inwoners is werkloos terwyl 70% werkloos is in Booysens / Claremont, 90% in Hermanstad, 60% in Pretoria Tuine, 40% in Mountain view en Suiderberg en omliggende gebiede.

 

U kan dus sien die ekonomiese ramp waarop ons gebiede afstuur? Hoe sal jy reageer as jy nie kos het om vir jou kind te gee nie? Dink bietjie daaroor as jy weer kos sommer net mors en dit beland in die asblik. Jy raak nie net afhanklik van kos en klere nie, maar vir alles in ons gewone mense se daaglikse lewe.

 

Jy kan nie vêr reis nie, want jy het nie vervoer nie en jy kan nie die bus of taxi bekostig nie. Jy loop met jou voete waar jy wil wees. Baie mense gaan tog per voet na die middestad van Pretoria vir kos koepons, net om deur die betrokke department weggewys te word omdat hulle wit is.

 

Jy het nie geld vir ‘n eenvoudige ding soos toiletpapier nie. Jy kan nie melk vir jou baba bekostig nie en vuil water is die voorland. Jy kan nie eers ‘n kers bekostig vir bietjie lig in die aande nie. Jy raak so afhanklik van ander dat jy sal sterwe as een of ander barmhartige samaritaan jou nie dalk daagliks help nie.

 

As u een van ons funksies al bygewoon het waar ons kos en klere aan arm Afrikaners uitdeel sou u dalk agtergekom het dat die mense verskriklik lelik eet. Dit is nie omdat hulle nie maniere het nie, maar omdat hulle honger is.

 

Baie van hierdie mense se liggame gaan in skok wanneer hy ordentlike kos kry om te eet. Sy liggaam is nie meer daaraan gewoond nie en het reeds aangepas om sonder kos te kan lewe. Dit is skokkend maar die werklikheid.

 

4. SKOLE IN DIE GEMEENSKAP STORT IN DUIE

 

Nou gaan u sekerlik vra maar hoe is dit moontlik? Dit is ‘n werkliheid. Skole sukkel om ‘n bestaan te voer weens die feit dat die kinders wat wel nog in die skole is se ouers nie kan bekostig om ‘n finansiële bydrae tot die skool te maak nie en daarom moet die skool planne maak om hierdie kinders finansieël te dra.

 

Kermisse word gereeld gehou, maar baie van hierdie skole wat wel fondse suksesvol in, help die ander skole in die gebied. Die skole in die gemeenskap kry maar ‘n klein bietjie hulp van die regering af en dit is gewoonlik nie eers genoeg om ‘n jaar se water en ligte rekening te dek nie.

 

Baie van hierdie skole voed die kinders bedags en is ook op een of ander stadium afhanklik van skenkings vanaf buite. In die Wesmoot is daar verskeie laer-en- hoërskole maar almal ondersteun mekaar en vooruitgang is dus nie maklik nie.

 

Sonder voldoende finansies kan geen onderneming ‘n bestaan maak nie. Dit werk so ook met die skole. Meeste van hierdie skole het dringende donasies nodig om hulle voedingskemas gedurende pouses te laat slaag. Die skole moes al die kinders wat amper verkluim skool toe kom, warm klere en sop gee.

 

Omdat daar op ‘n stadium nie klere beskikbaar was nie, was ‘n kind in ‘n kombers toegedraai met ‘n bottel warm water om hitte in die liggaam te kry. Maandelikse salarisse is egter ‘n groot kopseer.

 

Ekstra personeel is broodnodig aangesien daar ‘n onderwyser vir elke klas moet wees vir individuele aandag en om vir die getraumatiseerde leerders ‘n glimlag,’n sagte woord en ‘n drukkie te kan gee, want dit is soms al wat hulle ontvang en ken.

 

Aangesien leerders in haglike omstandighede bly,waar die basiese behoeftes ontbreek, het van die skole ‘n huis begin om leerders ‘n geleentheid te bied vir stabiliteit en sukses en ‘n geleentheid om akademies te vorder. Maandelikse uitgawes vir een so ‘n huis beloop plus minus R15000-00. Dit sluit in die huur van die huis, salaris vir huismoeder, huishulp, water en ligte, kos ens.

 

Aangesien die skole nie oor genoeg fondse beskik nie, kan nie al die kinders uit hulle haglike omstandighede verwyder word nie en moet die skole gereelde kospakkies huistoe stuur. Ouers stuur leerders siek skool toe omdat daar geen medisyne tuis is nie.

 

Alhoewel die skole-wet skole verplig om geen medisyne sonder die register te hanteer nie, voorsien die skole wel die nodige aan hierdie kinders. Koors kan nie geignoreer word nie en daarom gee die skool ‘n pilletjie of pleister waar nodig. In sommige gevalle stuur skole ook medisyne huistoe omdat kinders regtig siek is en daar niks tuis is nie.

 

Baie van die skole het hulle drag verander na slegs grys omdat dit by leweransiers goedkoop beskikbaar is. Selfs dit is vir sekere ouers net onmoontlik en kinders kom gehawend skool toe. Skoene is ook ‘n groot kopseer veral in die winter maande.

 

Die skole gee selfs 2de handse klere wat hulle as skenkings ontvang aan behoeftige leerders asook komberse en handdoeke. Van hierdie skole beskik nie oor ‘n tv, dvd stelsel vir hulle media sentrums nie en rekenaars vir kinders ontbreek groot.

 

In 2009 het die Pretoria/Tshwane Metroraad verskeie skole in die omgewing se water en ligte opgeskort omrede daar nie voldoende fondse was vir die betaling van die rekeninge nie. Dit is in kort waardeur die skole in die Wesmoot van Pretoria gaan.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.