Die Voorblad

A+ A A-

Om te stem of nie te stem nie … dis die vraag.

In Suid-Afrika se sogenaamde demokratiese bestel kry hierdie vraag nuwe betekenis as mens na gesprekke om jou luister. Mense het ‘n mening … altyd. En oor alles. En dis reg so, dit is immers elkeen se demokratiese reg. Of het ons demokrasie ook al net ‘n persepsie geword? Een van die mens se gewildste ontvlugtingsmetodes is om verbeelding met realisme te verwar.

 

En ons vergeet so maklik, en mense se ingesteldheid is om liewer nie te onthou nie. Maar dis nie ongewoon om in ‘n land, waar misdaad hoogty voer en korrupsie aan die orde van die dag is, jouself te vergryp aan verbeeldingstogte om van die alledaagse spanning en negatiewe omstandighede te ontsnap nie.

 

Die mens is so geskape dat hy hom- of haarself van nature beskerm. Terwyl ons hoor, sien en voel, verwoord ons ons ervaringe om onsself en ons eie omstandighede te pas. Die probleem ontstaan egter dat ons begin glo aan die snert wat goedsmoeds in ons koppe ingeprent word deur die media en die regering van die dag.

 

Sedert 1994 is ontelbare woorde gespreek in binnekamers en om braaivleisvure oor stemreg. Die argument word geopper: “my stem tel in elk geval niks nie”. Dis een argument waarvoor antwoorde nie in die Bybel gesoek hoef te word nie.

 

Dis die grootste leuen van die moderne tyd. Terwyl die renosterstroping in Suid-Afrika wereldwyd opslae maak en miljoene mense om die bloed van die skuldiges skree, terwyl mense uitroep om vergelding teen hulle wie robbe doodslaan vir hul pelse en die stroping van God se oseane van walvisse, bly ons gemoedelik doodstil oor die sowat 70 000 kinders wat jaarliks net in ons land deur aborsie vermoor word.

 

En min mense rep veel oor die wettiging van gay- en lesbiese huwelike. Min stemme gaan op oor prostitusie wat openlik bedryf word in ons dorpe en in ons strate. Min word gehoor oor die waarheid agter dwelmmisbruik en hoeveel Christenhuise reeds daardeur vernietig of onherstelbaar beskadig is nie. Hoeveel jong, onskuldige kinders daardeur vermoor is.

 

Wie doen iets aan die regeringstrukture wat eenvoudig voortsnel om die land se bronne uit te wis, die ekonomiese bestel te vernietig en bedrog en korrupsie in Springboktruie te klee? Elke oorwinning wat hierdie spelers behaal word, is ‘n reuse-nederlaag vir die toekoms van ons mooi land.

 

En mense stem nie, want hulle stem “tel in elk geval niks nie”. Indien die helfte van die land se blankes, wie in die vorige twee nasionale verkiesings buite stemming gebly het, wel gestem het teen die heersende regering, sou die ANC nie ‘n twee-derde meerderheid behaal het nie.

 

Indien so baie, wie hulle stemme dikmaak om die braaivleisvure, hulle Godgegewe plig nagekom het, sou onder andere, aborsie, prostitusie en huwelike van dieselfde geslag nie deur wetgewing deurgevoer kon word nie. Maar mense stem liewer nie.

 

Hierdie draadsitters onteien hulle die reg om aan debat deel te neem. Selfs om die braaivleisvuur. As jy nie gestem het nie, het jy nie ‘n se nie … bly stil. Moenie kla oor hoe brandstofpryse nie, moenie kla oor korrupsie en bedrog nie, moenie kla oor die polisiemag nie, bly stil oor sekuriteit en veiligheid.

 

Aanvaar jou kinders se skoolopleiding en dat die Christelike godsdiens in ons skole vermoor word. Bly stil oor prostitusie, dwelmhandel, vervalle mediese dienste en hospitale wat soos rommelhope lyk.

 

Hou dit vir jouself dat die land se paaie in ‘n slagveld omskep is, dat jou geld deur stads- en streeksrade gestroop word, dat kinders nie meer vrylik in die strate kan fietsry nie, dat boere wat die land van kos voorsien, vermoor word, dat daar geen aanvaarbare vorm van diens in besighede meer bestaan nie, dat ons in tronke woon om ons eie te beskerm.

 

Suid-Afrika is deur God aan sy mense gegee. Dis tyd dat ons manne terugkeer na God en biddend beheer oor hulle gesinne terugneem. Dat familiewaardes herstel word, dat die vure van naasteliefde aangesteek word, sodat ons land herstel kan word.

 

Dis tyd om mekaar weer te leer liefkry en vir mekaar om te gee. Dis tyd om ons stemreg terug te eis sodat ons en ons nageslagte in oorwinning kan leef. Daardie oorwinning is slegs moontlik deur onsself te verneder voor die Almagtige God, om binne Sy wil te kom en op te hou om onsself aan die magte van en in die wereld oor te gee.

 

Elke stem tel.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.