Die Voorblad

A+ A A-

“Lied van my Hart” laat my hart warm klop in Afrikaans

Groot was ons opgewondenheid toe ons die snelweg aandurf vanuit Johannesburg na Pretoria om Deon Opperman se nuwe teaterproduksie, Lied van my Hart, te gaan kyk.

 

Die vertoning in die Staatsteater in Pretoria is weereens 'n bewys dat Afrikaans as uitvoerende kunste-taal beslis nie dood is nie, maar eerder uitmuntend groei.

 

Met groot verwagtinge het ons, ons plekke ingeneem en met die eerste oogopslag was dit duidelik dat die publiek honger is vir kwaliteit produksies in Afrikaans, want op hierdie kouerige weeksaand is die bywoning uitstekend.

 

Lied van my Hart is 'n uiters professionele produksie en met kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Nadine in die hoofrolle, is daar dadelik 'n gevoel van tone omkrul lekkerkry by die gehoor. Die dekor kan 'n mens sien is met groot sorg gedoen wat jou dadelik laat voel jy is deel van die aksie op die verhoog.

 

Alhoewel elke liewe lid van die geselskap met oorgawe hulle rolle briljant vertolk het, kan mens nie anders as om Steve Hofmeyr as Wayne le Roux en Elzabe Zietsman as Elzette Kannemeyer uit te lig vir hulle spel nie. Dit is asof die warmte en energie 'n paar grade styg as een of albei van hierdie akteurs die verhoog betree en is dit duidelik hoekom hulle al diep spore in die vermaaklikheidsbedryf getrap het.

 

Altus Theart as Jake Storm het die gehoor getrakteer op briljante toneelspel en vir menige komiese oomblikke gesorg. Vaughan Gardiner as Morne en Sasha Stroebel as Sandre en Savanah, bewys dat die jong vars talent op ons verhoë definitief nie aan die afneem is nie.

 

Buiten die gewilde liedjies, goeie beligting en kreatiewe dekor is die oomblik van die aand gesteel deur Johan C. Venter as Blaise met sy vertolking van die liedjie De La Rey, gedurende die oudisies in die Hitfabriek. Die gehoor het behoorlik uit hulle stoele geval en na die vertoning al verby was is daar nog na die toneel verwys en weer liggies geskud van die lag.

 

Net as mens dink die storie is die ge-eikte liefdesdriehoek en die hunkering na sukses in die groot stad met sy blink liggies, slaan die komedie die ou norm vir 'n ses. Deon en Sean Else moet krediet kry vir die briljante manier waarop hulle komedie gebruik het om 'n warm gevoel binne elkeen te geskep en 'n nuwe dimensie te gee aan 'n ou tema.

 

Dis mos hoe ons Afrikaners kan en wil lag, uit die maag en met oorgawe. Die vertoning was in een woord 'n belewenis en dit was met 'n tikkie spyt dat die gordyn die laaste keer afgegaan het en jy jou moes losruk van die wêreld wat hier voor jou geskep is.

 

Ons het weggery uit Pretoria met 'n warm gevoel dat Afrikaans darem 'n wonderlike taal is en vir 'n oomblik het ons al die neerslagtigheid van die tolhekke en misdaad agterweë gelaat om net vir 'n kort rukkie trots te wees op ons taal, ons mense, en veral ons kunstenaars.

 

Ek kyk klaar uit na die volgende produksie, doen so voort!

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.