Die Voorblad

A+ A A-

Red Bob van Reenen stadion

Besorgde Krugersdorpers en atlete kan nou nie meer langer wag dat stadsvaders besluit waar en wanneer die dorp ‘n bruikbare atletiek en sportstadion kan kry nie. Die eens glorieryke Bob van Reenen-stadion wat nou sestigjaar oud is, het vir geslagte lank in die behoeftes van Krugersdorp en omliggende dorpe voorsien.

 

Die sosialekalender van die dorp was dag na dag gevul met sportbyeenkomste op die stadion. Tot die stadsraad en Kaizer Chiefs sokkerklub begin onderhandel vir ‘n splinternuwe Amakozi stadium ter voorbereiding van die wêreldsokkertoernooi in 2010. Daar was nege sportsoorte op die stadion aangebied en na maandelange onderhandelings is die hekke is in 2005 gesluit.

 

Die rugbyklub is kilometres ver op die Johanna Botha sportveld in Krugersdorp-Wes gehuisves en die res moes maar self ‘n heenkomesoek. So het die legend van Paul Nash, Fanie van Zyl, Hezekiel Sepeng en vele ander wat wêreldrekords laat spat het, stelselmatig verdwyn.

 

Maar ‘n groep Krugersdorpers wat hulle self die Red Bob van Reenen –stadion noem, het begin woeker en aanklank by alle skole, sport-, kultuur- en politieke organisasies gevind en besluit om druk op die regering toe te pas. Mev. Delia Smit, voorsitter van die Red Bob van Reenen-stadion sê sy het die terrein waarop die stadion staan, as ‘n erfenis gebied verklaar.

 

Dit sal eersdaags in die Staatskoerant aangekondig word. “Bob van Reenen het verlede jaar sestig jaar oud geword en hy verdien daardie status. Ons wil Bob van Reenen in sy volle glorie herstel hê en gaan die regering dwing om dit te doen.

 

Daar is geld en ons dring daarop aan dat herstelwerk so gou as moontlik begin. “Om te wys hoe ernstig ons is, word ‘n optog vandees maand vanaf die Bob van Reenen-stadion na die burgemeester se kantore, beplan.

 

Al Krugersdorp en omliggende skole gaan aan die optog deelneem. So ook alle sportklubs. Daar sal ook ‘n hele paar bekende atlete in die optog te sien wees.”

 

Mnr. Jaco Mulder, LPW in Gauteng en leier van die VF Plus in die provinsie, het sy gewig agter die projek ingegooi en by die premier van Gauteng Nomvula Mokanyane aangedring dat sy self by die saak betrokke raak.

 

Mnr. Mulder het in die Gautengse Wetgewer die premier gevra om die bugemeester van Mogale Munisipaliteit te dwing om die hekke van die stadion oop te maak sodat atlete van die fasiliteite gebruik kan maak. “Die tartanbaan is in ‘n redelike toestand, maar die gronde moet skoongemaak word.”

 

“Verder woon daar vyf lede van die Wetgewer in Krugersdorp en die tyd het aangebreek dat ons met mekaar oor Bob van Reenen praat sodat ‘n werkbare oplossing gevind kan word,” het mnr. Mulder in sy debat gesê.

 

Me. Mokanyane het mnr. Mulder gelyk gegee en ‘n ontmoeting met die wetgewerlede aangemoedig om so probleme rondom die stadion te bespreek. Mnr. Mulder gaan ook, indien die MogaleStadsraad nie gou genoeg op tree nie, ‘n klagte by die polisie lê ingevolge die verbruikerswet omdat die stadsraad as ‘n diensverskaffer nie sy pligte na kom nie.

 

“Intussen het sport in Krugersdorp beduidend agteruit gegaan. Atlete presteer nie meer soos in die verlede nie. Ouers moet nou ver ry om hul kinders te laat oefen. Skole met soortgelyke standaarde as Bob van Reenen (tartanbane) is suinig om hul bane aan buiteleerlinge beskikbaar te stel.

 

Waar moet ons landelike kinders oefen en deelneem? Ons kan nie toelaat dat talent hierdeur verlore gaan nie. Mogale City skuld sy kinders dit. Hulle het ‘n plig en ons sal hulle daartoe roep,” het mev Smit gesê.

 

Mev.Smit en mev. Amanda de Lange streekleier van die VF Plus aan die Wes-Rand, het die sportgronde besoek en behalwe die verwaarlosing van die terrein is die hoofwatertoevoer –pyp na die ablusieblokke, stukkend. Water het by die gebou uitgestroom op die lowergroen gras en kakiebos. ‘n Sekuriteitswag wat daar diens doen, sê hy het dit aangemeld, maar niks gebeur nie.

 

Die water stroom reeds ‘n week of meer by die gebou uit. Mev.HannelieSnyman, stadsraadslid, het dringend opgetree en gesorg dat die stadsraad nog dieselfde dag die problem oplos.

 

“Hierdeur is duisende liters water verlore. Amptenare behoort die terrein te inspekteer en probleme aanspreek.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.