Die Voorblad

A+ A A-

Geweld teen Afrikanervroue 'tas volkseer aan'

Die Vryheidsfront ondersteun UNPO in sy aanbeveling dat die VN se Internasionale dag vir die eliminering van geweld teen vroue elke jaar op 25 November voortaan spesifiek ook na minderheidsvroue behoort te verwys.

 

Karin Roodt, voorsitter van die party se Vrouekomitee, meen "Afrikanervroue ly meer onder kriminele en politieke geweld, juis omdat hulle tot 'n minderheid behoort".

 

Me. Roodt het 'n beroep op die regering gedoen om die VN-resolusie 1325 van 2000 te respekteer en UNPO se raad te volg deur Afrikanervroue in te sluit. UNPO staan vir "Unrepresented People's Organisation" en is 'n Verenigde Nasies vir staatlose volke waar die Vryheidsfront Plus reeds enkele jare lank die Afrikanervolk verteenwoordig.

 

Sedert die Eerste Wêreldoorlog toe slegs 5% van die burgerlike bevolking deur direkte geweld weens intra- en interstaatlike konflik geraak is, word 80% van burgerlikes, en veral vroue en kinders, vandag in die wêreld deur konflik geteister.

 

Die UNPO-verslag wys op seksuele geweld teen vroue wat gebruik word om "die eer van 'n volk aan te tas".  Roodt meen dieselfde verskynsel is in Suid-Afrika waar te neem.

 

"Seksuele geweld teen Afrikanervroue tydens plaasmoorde en stedelike aanvalle verteenwoordig kennelik 'n strategie om ons volkseer aan te tas. In die meerderheid gevalle word sulke geweld 'n manier om mag te bekom of uit te brei.

 

Daders word aangehits deur uitsprake van voormalige regeringslui soos 'Skiet die boer'," het sy gesê. Die VF se vrouekomiteevoorsitter het die tweeledige probleem van sowel diskriminasie as geweld teen 'n sigbare minderheid - soos Afrikanervroue in Suid-Afrika - veroordeel en die aanbevelings van die 4de sessie van die VN-forum oor Minderheidskwessies wat op 29 en 30 November in Geneve, Switserland, gehou is, verwelkom.

 

Twee van die aanbevelings is: bewusmaking van die probleem en noukeurige rekords van geweld teen minderheidsvroue. Roodt het daarop gewys dat Afrikanervroue veral ly onder die redelose geweld wat in Suid-Afrika gepleeg word.

 

Die mees onlangse geval is die jong Tukkiestudent wat bykans dierlike geweld moes trotseer en die geskokte gemeenskap moes daarna toesien hoe haar vermeende verkragter aanvanklik weens polisienalatigheid uit aanhouding "ontsnap".

 

"In Suid-Afrika is ons reeds bewus van geslagsdiskriminasie. Maar die Vryheidsfront is dit eens met die UNPO-verslag dat minderheidsvroue disproporsioneel onder diskriminasie en geweld gebuk gaan," sê Roodt.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.