Die Voorblad

A+ A A-

Oorsig in die onderwys

Voorblad het gaan kersopsteek by Advokaat Anton Alberts, VF Plus woordvoerder oor Onderwys. Hier deel hy sy gedagtes rondom Onderwys in Suid-Afrika.

 

Onderwysers

 

Swak opgeleide onderwysers speel ‘n groot rol in die swak onderwyspyl in Suid-Afrika. Die probleem is tweeledig; swak opleiding van onderwysers in kombinasie met 'n gebrek aan dissipline – soos om betyds en gereeld vir werk op te daag – het ‘n negatiewe invloed op onderwys in ons land.

 

Dit is 'n ongelukkige tendens dat tersiêre opleiding se standaarde stelselmatig daal, asook die standaard van onderwysers self. Die probleem is egter nie so eenvoudig nie en het veelvoudige oorsake.

 

Desnieteenstaande bogenoemde, is daar steeds baie goeie onderwysers daarbuite wat geweldige moeite doen en selfs uitgawes uit hulle eie sakke aangaan, om hulle leerlinge te help. Dit is 'n feit dat baie leerlinge presteer, ongeag die omstandighede, omdat die paar goeie onderwysers soveel inploeg in kinders se lewens. Dit is dalk juis daardie paar onderwysers wat vir ons die goeie leiers kweek wat SA tog 'n kans kan gee om te oorleef en kompeteer in 'n toenemende komplekse en geglobaliseerde wêreld.

 

Regeringsbenadering

 

Van die foute in die onderwysstelsel moet ook voor die deur van die regering gelê word. Die regering moedig middelmatigheid aan by swart leerlinge en onderwysers deur die uitgangspunt van regstellende aksie wat werksgeleenthede bloot op grond van velkleur waarborg. Andersyds, demoveer regstellende aksie weer wit leerlinge om te presteer. Verder gryp die regering nie ernstig in by onderbefondsde skole in arm gebiede om te sorg dat onderwysers bemagtig word om hulle onderwystaak optimaal te verrig nie.

 

Dié skole word geïgnoreer terwyl die onderwys departement eerder 'n ideologies-gedrewe agenda het om Afrikaanse skole te dwing om leerlinge in te neem wat nie behoorlik Afrikaans of Engels magtig is en dus nie na behore kan presteer nie. Moedertaal onderrig moet die norm wees en is al wat prestasie sal verseker. Die kinders en onderwysers word egter pionne in 'n politieke spel en uiteindelik ly hulle daaronder. Verder is daar ook werklike aanduidings dat die kurrikulum nie op 'n behoorlike vlak vasgestel is nie.

 

Impak op Leerders

 

Middelmatigheid het die norm geword en leerders lei daaronder . Die meeste leerlinge wat vrystelling kry vir verdere studie vind ook mettertyd uit dat hulle nie bevoeg is om tersiêre studie suksesvol te voltooi nie. Uiteindelik het dit ‘n impak op Suid-Afrika se politieke en ekonomiese toekoms. Ons begroot vir 'n toekoms van middelmatigheid en selfs minder. Indien ons die veelvuldige en komplekse uitdagings van die toekoms wil aanspreek, moet ons briljante leiers kweek. Tans gebeur dit nie.

 

Beter Onderwys in die Toekoms

 

In die eerste plek moet onderwys gedepolitiseer word. Onderwys magte moet afwentel na gemeenskapsvlak, terselfde tyd moet die regering sy rol behou as hulpbron. Heelwat nuwe skole moet gebou word op grond van demografiese gegewens wat behoeftes aandui binne kultuur – en taal verband. Onderwysers moet ook beter vergoed word, terwyl die opleidingsvlak van onderwysers verhoog moet word. Onderwysers wat nie die hoë standaard by die werksplek nastreef nie, moet gedissiplineer word.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.