Die Voorblad

A+ A A-

Ons kinders, ons toekoms

Die karakter van ʼn nasie word gemeet aan die manier hoe hy sy kinders behandel, en ons mooi land se grootste rykdom lê in sy mense, veral in sy kinders. Dit is egter ‘n onbedekte feit dat ons kinders nie genoeg deur die grondwet beskerm word nie.

 

Suid-Afrika se diverse sosio-maatskaplike omstandighede, oorlaaide en lomp staatsinstellings is nie gerat vir die toepassing hiervan nie. Die nodige infrastrukture om kinders te beskerm is nie volkome in plek nie en daar word telkemale berig van onvoldoende ondersoeke, uitgerekte hofsake, en onbetrokke- en onkundige beamptes. Die Maatskaplike rade en welsyn-organisasies word nie na behore beman of gefinansier nie en sake word na distrik kantore aangestuur waar ‘n saak vir tot 2 jaar op ’ n amptenaar se tafel kan lê.

 

In baie gevalle is die tydsduur te lank en teen die tyd dat die saak ondersoek word, is die kind op straat en is waarskynlik vasgevang in dwelms en prostitusie. Volgens die Kinderwet is alle professionele persone wat met kinders in aanraking kom asook vrywilligers, verplig om die redelike vermoede van mishandeling en/of verwaarlosing by die polisie aan te meld sodat dit behoorlik ondersoek kan word. Indien sodanige persoon in gebreke bly om dit aan te meld, is dit strafbaar. Met die nuwe Kinderwet is daar ‘n nasionale kinderbeskerming register ingestel.

 

Ons kinders kan soos eiendom verhuur en verruil, soos n horlosie verlê, soos troeteldiere weggee, soos bates verkoop, verwaarloos en misbruik word. Ons word deur die liefde van Christus genoop om die kinderregte te beskerm en met ander vennote saam te span om by die heling van ons gesinne daadwerklik betrokke te wees. Ongelukkig word ons hande afgekap deur ‘n gebrekkige stelsel wat die praat praat maar die pad nie kan stap nie. Artikel 28 van die Grondwet bepaal dat elke kind ‘n reg het op basiese voeding, skuiling, gesondheids- en maatskaplike dienste.

 

Artikel 28(2) stel dit onomwonde dat die beste belang van die kind die deurslaggewende faktor is. Hierdie beginsel van "beste belang" het egter nog nie na elke faset van sommige kinders se lewe deursypel nie. Die Kinderwet, Wet no 38 van 2005, bladsy 20, vannaf paragraaf 7 is n mondvol. Maar dit is wat dit is. Net ‘n mondvol.

 

Op die stadium is die strukture wat die wet moet toepas nie in plek a.g.v. – weereens – tekort aan mannekrag en tekort aan befondsing. ‘n Dringende versoek word vandeesweek aan Bojanala Platinum Distriksraad se voordvoerder vir gemeenskaps-ontwikkeling me. N. Lebotse gestuur vir die vrystelling van meer mannekrag en geld vir die Christelike Maatskaplikeraad en ander regerings-organisasies en instansies wat deur die regering daargestel is om die grondwet uit te voer.

 

Ek het in November verlede jaar ‘n suksesvolle vergadering saam met die Christelike Maatskaplike Raad en Pastoor Willie Archer van AGS-Kerk Sonnop bygewoon. Pastoor Archer wat die projek sal lei werk hard om ‘n “veilige hawe - Kinderhuis” in Sonnop te vestig, asook ‘n Sentrum vir kinders wat in nood verkeer. Daar is twee “veilige hawes” in die Madibeng-omgewing vir kinders, maar dit is oorvol en die CMR kan nie meer kinders daarheen uitplaas nie.

 

Indien Pastoor Archer se beoogde projek van die grond af kom, sal daar gekyk kan word na die opvoeding en algemene welsyn, asook hulle geestelike behoeftes van kinders in nood. Daar word reeds projekte beplan ten einde die beplanning, sonering en oprigting van die Kinderhuis. Die Vryheidsfront Plus het hom hier ook verbind tot die projek en sal dit met woord en daad bystaan en betrokke wees om die kinderhuis die lig te laat sien.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.