Die Voorblad

A+ A A-

Onderwys om op trots te wees

Die CVO  Volkskool in Brakpan is getrou aan hul leuse waar elke kind met sorg onderrig en voorberei word op hul pad na volwassenheid. Skoolhoof, mnr. Paul Zietsman, se oë blink en sy hande beduie van pure opgewondenheid as hy praat oor die prestasies van sy leerders en hoe onderwysers dit nog geniet om onderwys te beoefen.

 

 

“Die Volkskool Brakpan is 21 jaar gelede op die AP kerkgronde met 20 kinders begin. Tans huisves ons ‘n kleuterskool, laer-en hoërskool wat onafhanklik van die regering staan en deur die ouers en onderwyserkorps bestuur word. Die  skool is ‘n bekostigbare privaatskool, gevrywaar van enige idiologie van die Departement van Onderwys en word op ‘n suiwer Christelike, volkseie onderwysstelsel bedryf."

 

“Een van die pluspunte by Volkskool Brakpan is dat Bybel-onderrig ‘n verpligte vak vanaf Graad 1 tot Graad 12 is en daarmee saam is Afrikaans as taal en die Afrikanerkultuur ‘n prioriteit.”

 

Tans is Volkskool Brakpan een van 40 sulke privaatskole in die land en is lid van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (CVO) en word dit amptelik erken as ‘n eksamineringsliggaam deur die SA sertifiseringsraad (Umalusi).  Vakke soos Bybelonderrig, Afrikaans, Engels, Wiskunde Geletterheid, Christelike Lewensoriëntering, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Rekenaartoepassingstegnologie, Besigheidstudie, Rekeningkunde, Toerisme, Ingeneursgrafika en Ontwerp word hier as vakkeuses aangebied. Die skool het 200 leerlinge, maar kan sowat 350 inneem. Die klasse wissel van 8 tot 22 leerders in ‘n klaskamer.

 

“Ons wil graag meer leerders inskryf, maar ons het ongelukkig nie koshuisfasiliteite nie. Baie boere het aangedui dat hulle graag van ons dienste sou wou gebruik maak”, meen mnr Zietsman.

 

Omdat kultuurerfenis vir die leerders, onderwysers en ouers belangrik is, word baie aandag geskenk aan Verwoerddag, Republiekdag, Hemelvaart en ander Christelike dae. Kinders word op die dag oor die belangrikheid en geskiedenis ingelig en gaan daana huis toe.

 

“Ons glo God is in beheer van ons lewens en daarom begin alles by Hom. Dit is vir ons so ‘n ernstige saak, dat wanneer ‘n leerder Bybelonderrig druip, druip hy sy graad. Lewenswetenskappe word ook uit ‘n Christelike oogpunt aan die leerders verduidelik."

 

Op sportgebied presteer die kinders op verskeie vlakke en die skool het pas met boogskiet-afrigting begin. Hulle ding ook mee met ander CVO-skole.

 

“Dit is belangrik dat die skool in die algemeen groei. Ons visie is dat die hoër- en laerskool geskei word. Daarom is dit belangrik dat ons ‘n hoë standaard handhaaf, want ons leerders is vir ons belangrik,” sê mnr Zietsman.

 

Mense wat meer besonderhede verlang, kan gerus vir mnr Zietsman skakel by 011 743 3621/2/3.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.