Die Voorblad

A+ A A-

Philip van Staden - 'n Man met 'n missie

Die Afrikaner het nog lank nie die leisels neergelê in hierdie pragtige sonnige land van ons nie!  Inteendeel ons begin nou eers in alle erns spoed optel, want die volgende verkiesing gaan vir buitengewone verrassings sorg. So sê mnr. Philip van Staden, nuut verkose LPW van die VF Plus in Gauteng.  Hy neem die leisels oor by mnr. Jaco Mulder wat na byna 20 jaar in die aktiewe politiek die tuig neerlê.

 

 

Mnr. Van Staden wat ‘n stadsraadslid vir die party in Pretoria was, is alom bekend dat hy ‘n Afrikaner in murg en been is. Hy veg vir die Afrikaner, baklei saam met hulle, lag saam met hulle en huil saam met hulle... Dié kom al van kleintyd af.  Hy was nog op laerskool toe hy in 1987 op 12-jarige ouderdom in die jeugstrukture van die destydse Konserwatiewe Party onder die eertydse leier en stigter, dr. Andries Treurnicht, opgeneem is. In 1994 het hy hom as ‘n jong 18-jarige by die nuut gestigde Vryheidsfront van genl. Constand Viljoen aangesluit.

 

Na matriek het hy die sakewêreld betree en in 2006  besluit om aktief by die politiek betrokke te raak. In dieselfde jaar staan hy as munisipale kandidaat in die Annlin-area, Pretoria, vir die VF Plus. In 2008  het hy homself verkiesbaar gestel in die Wes Moot-area in Pretoria en het sy wyk met ‘n skrale 143 stemme verloor. Dié uitslag het hom egter net aangespoor om homself beter te vergewis van die wel en weë van sy gemeenskap om sodoende na hulle belange om te sien.  Deur baie harde werk op grondvlak is die droom van hom bewaarheid toe hy in 2011 as VF Plus raadslid in die Tshwane Metroraad aangestel is en ook verkies is as burgemeesterskandidaat van die VF Plus in Pretoria. Na die 2014 Algemene Verkiesing is hy dan ook verkies as lid van die Gautengse Wetgewer.

 

“Ek is een van daardie gelukkige mense wat my drome kan uitleef.  My ma se beste storie wat sy oor my  aan joernaliste vertel is een aand in die ou bedeling voor die TV.  Die nuusleser het begin praat oor die opening van die parlement en in die agtergrond het die ampsmotor van oudpresident PW Botha en sy vrou voor die parlement gestop. Ek het aan my ma gesê dat ek ook eendag in so ‘n blink motor by die Parlement wil aankom.  Ek het altyd geweet ek gaan ‘n politikus word, dit is wie ek is,” sê mnr. Van Staden.

 

Tog is dit nie ‘n maklike droom om uit te leef nie.  Dit is ‘n klipperige pad, jou privaatheid kom in gedrang en jy word onder ‘n vergrootglas geplaas. "Ek glo in voetsool-politiek.  Ek wil in mense se huise ingaan, deel wees van hul wel en weë en sodoende kan ek ‘n beter rol op provinsiale vlak speel. Ek glo ook aan interaksie en vandag maak LinkedIn, twitter, facebook, ens. dit makliker om mense en hul probleme te bereik.”

 

Een van sy grootste bekommernisse is die ekonomiese insinking. Die VF Plus gaan ‘n ekonomiese plan op die tafel plaas om so te help om die resessie te stuit. “Suid-Afrika leef in ‘n ongesonde  ekonomiese klimaat. Die vakbonde regeer die land en intussen verarm ons en kan dit tot verdere onstabiliteit lei”.

 

Oor sy nuwe politieke seisoen in die Wetgewer is hy baie opgewonde.  “Die stadsraad het ons geskool om vinnig te dink en alles is ‘n paar minute te sê.”  Hy is ook aangewys as die leier van ‘n minderheidsparty in die Wetgewer en gaan beslis hier ‘n verskil maak. Hy gaan veral op die administrasie van die munispaliteite konsentreer.

 

“Nog  knelpunte is vervoer en paaie asook infrastruktuur. Daar moet ook dringend op onderwys en opleiding gefokus word.  Grondhervorming en die reg op eiendom sal dopgehou word.  Die VF Plus gaan op verskeie vlakke  sy stem dik maak en ‘n verskil maak.”

 

Die voorspelling is dat die vonke behoorlik in alle rigtings gaan spat.  Een van die dinge wat daartoe aanleiding kan gee is die VF Plus se plasing tussen die EFF-lede in die Huis. Tydens ‘n skynsitting verlede week het die partye hewig gedebateer.

 

“Ek het baie kiesers wie se saak ek moet beskerm en hulle verwag  van my om my beste te lewer.  Niemand gaan my stuit wanneer ek my argumente en oplossings in raadsale indra nie”.

 

In sy persoonlike lewe beleef hy ook ‘n blomtydperk.  Hy trou in November met Sumare, wat ook sy politieke inspirasies deel. “Sy is my nommerpas vrou en verstaan dat daar baie uitdagings gaan kom, maar saam sal ons dit oplos.”

 

Sy naweek-dagboek is net so vol soos sy weeksdae en aande maar “Sondae is gesinsdag, familiedag.  Dit is dan wanneer ek  en Sumare saam kerk toe gaan en tyd saam familie deurbring. Dit is belangrik om ‘n balans in jou lewe te handhaaf want so kry ‘n mens weer perspektief en kan die week met nuwe moed aandurf”.

 

Oor die VF Plus se raklewe glo mnr. Van Staden dat die party se tyd nog lank nie uitgedien is nie.  “Ons bestaan alreeds 21 jaar en elke keer met ‘n verkiesing groet die opposisiepartye ons asof hulle ons nooit weer gaan sien nie.  Na die verkiesing neem ons weer ons plekke in en gaan die stryd weer aan.”

 

Hoe hy graag onthou wil word – “as die een wat dit reggekry het, dit end-uit gedoen het om die lewe vir ander ‘n bietjie makliker te maak.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.