Die Voorblad

A+ A A-

Jaco Mulder - 'n Vryheidsfronter in hart en siel

As jong student in 1982 by die destydse Rand Afrikaanse Universiteit kon hy nie anders as om by die politiek aan te sluit nie. Dit is nou maar net ’n Mulder-ding. In die volgende tien jaar beleef hy die politiek op sy onstuimigste. PW Botha wat uit die parlement geskop word om plek te maak vir ‘n meer liberale denker, die Konserwatiewe Party se weiering om aan ‘n demokratiese verkiesing deel te neem en dan die geboorte van die Vryheidsfront Plus.

 

 

Jaco Mulder, pas afgetrede leier van die VF Plus in Gauteng,  se uittrede na 32 jaar in die politiek beteken nie dat hy gaan ophou om vir Afrikaner-belange te veg nie. Sy lewe gaan bloot ’n nuwe en vars rigting inslaan. Hierdie keer gaan dit om Afrikaner-sake in die Nood-kaap uit te brei en ekonomiese ontwikkeling te help stimuleer. So tussen die politiek deur het hy oor die laaste klomp jare sy deel bygedra om te help bou aan dié provinsie se ekonomiese vooruitgang.

 

Onder sy leiding is sakegeleenthede geskep en beleggers is aan die Noord-kaapse dorp, Orania, bekendgestel. Die dorp op die oewers van die Oranje-rivier gedy onder sy mense wat glo in die voortbestaan van die Afrikaner kultuur en waardes. Soveel so dat lang naweke en vakansies die dorp en omgewing behoorlik uit sy nate laat bars. Sy fokus skuif ook na ‘n langverwagte droom naamlik die familieplaas op Hekpoort. Die groot plaashuis met ‘n  aangrensende tabakskuur is omskep in ‘n gastehuis wat uitkyk oor die Magaliesberge. Die prentjie mooi plaas met baie inheemse flora gaan nou ontwikkel en aan die publiek bekendgestel word.

 

Oor sy politieke loopbaan is daar baie oor gesê en geskryf. Op ‘n vraag of alles die moeite werd was, kom die antwoord dadelik ”ja!, want in elke landsburger in wie se lewe ek ’n verskil kon maak, maak politiek die moeite werd, al is dit hoe gering. Elke keer as ek kon help om ‘n diensterekening reg te stel of die lewe van ‘n arm weduwee wie se man vermoor is, makliker te maak, of ‘n rol gespeel  het om politieke gevangenisse wat voor 1994 tronk toe gestuur is, te help vry laat, was dit vir my ‘n politieke hoogtepunt.””

 

Baie sal hom onthou vir die bydraes wat hy gelewer het in Afrikaner-gemeenskappe soos Kleinfontein, waar hy as deel van ’n span teen die Midvaal wanadministrasie geskop het, die e-tol beveg het, dae en maande in die hof deurgebring het om vir minderheidsregte te veg, behoud van straatname, ens. Jaco Mulder laat sy bestuurspan en sy kiesers in die hande van ’n jonger nuwe leierskorps.

 

”Ek glo in spanwerk en het my deur die jare toegespits om goeie leiers te kweek en daarom is ek seker dat die provinsie van krag tot krag sal gaan en sterk sal groei. Ek wens die nuwe span sterke en voorpoed toe en hoewel ek nie meer in die strukture van die party gaan dien nie, sal ek altyd ‘n Vryheidsfronter bly,””het hy gesê.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.