Die Voorblad

A+ A A-

KRANSLEGGING BY KOOIJKER SE GRAF

‘n Kranslegging seremonie word Dinsdagmiddag, 8 April, by die graf van ‘meester’ Gerhard Kooijker gehou ter nagedagtenis van dié dapper onderwyser en soldaat  wat wreed gesterf het. Die seremonie vind om 16:00 in die Dahlstraat-begraafplaas in Pietersburg plaas. Kooijker was die enigste sterfte aan die boere kant gedurende die Engelse inval onderleiding van genl. HCO Plumer tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

 


Hy was ‘n adjudant in die boere mag onderleiding van genl. Beyers. Gedurende die aanval is hy deur lede van ‘n Australiese-kontigent, terwyl hy uitgestap met sy hande omhoog as teken dat hy oorgegee het, met bajonette doodgesteek.

 

Die kranslegging word elke jaar gereël deur mnr. Johan Willemse, VF Plus stadsraadslid en Afrikaner-kultuurleier van Pietersburg. Rdl. Pieterse vertel dat in die jare net voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, het die destydse Staatspresident van die Z.A.R., die Weledele Heer S.P.J. Kruger, sekere “welopgevoede jong heren” vanuit Nederland gewerf om in die Transvaal as onderwysers te kom optree.

 

Een van hierdie jong manne was Gerhard C. Kooijker, wat by die Volkskool te Carolina geplaas is. Kort na hy diens aanvaar het, het die vyandelikhede tussen Groot Brittanje en die Z.A.R. tot uitbarsting gekom en is die Burgermag opgeroep. Kooijker, as akademies onderrigte jongman, is ingedeel by die  bevelstruktuur van die Carolina Kommando.

 

Hierdie Kommando was goed georganiseerd, anders as meeste Kommando’s van daardie tyd reeds met hulle eie uniform, asook ‘n goed geoliede administrasiestelsel; iets waarin Kooijker gemaklik gepas het. Carolina se burgers het aanvanklik effektief deelgeneem aan die suksesse in Natal, onder meer by Spioenkop, en is mettertyd deur die hele Transvaal en Vrystaat aangewend.

 

Die twee Republieke het besluit om die gesamentlike bevelstruktuur gedurende Oktober 1900 in Pietersburg te vestig,  warheeb Kooijker   gestuur is. Hier is hy as adjudant afgedeel na die personeel van generaal Beyers, bevelvoerder te velde van die Waterberg- en Zoutpansberg-Wyke. Beyers was beindruk met sy nuwe adjudant se bekwaamhede, en onmiddellik toegesien dat Kooijker gedurende die oggende as onderwyser in die plaaslike Nederlands-sprekende skool, die huidige Pietersburg Laerskool, diens doen en sy militêre pligte na skoolure, uitvoer.  Pietersburg het sedert 1889, drie jaar na die dorp amptelik gestig is , sy eerste skool se deure geopen. Die kinders se opvoeding was vir die gemeenskap belangrik en verskeie skole is opgerig.

 

Die Hollandse skool in Pietersburg was verspreid deur die dorp, en drie van die bestaande klaskamers van Pietersburg Laerskool, is sover bekend die enigste bestaande struktuur van die oorspronklike skoolkompleks. Buiten die Afrikaanse (Hollandseskool) was daar ‘n doeltreffende Engelsmediumskool om voorsiening te maak vir die groot getal Engelse inwoners.

 

Die goudmynbedrywighede (delwers) en welvarende handelspraktyke het groot getalle Engels-sprekendes na die Wyk Zoutpansberg gelok. Die Engelseskool se klaskamers was gevestig waar kantore van die Provinsiale Departement Sport, Kuns en Kultuur tans is, op die hoek van Grobler- en Markstrate. Die oggend van 8 April 1901 het die Britse magte onder aanvoering van Genl. H.C.O. Plumer vanuit Marabastad na Pietersburg opruk.

 

Die Kommando, bestaande uit die totale Boeremag wat hier saamgetrek het, insluitend die Regeringstrukture van die twee Boererepublieke het reeds op 7 April na Houtboschdorp en die delwersdop Haenertsburg toe uitgewyk sodat Pietersburg met die vrouens en kinders nie aangeval en verwoes sou word nie. Meester Kooijker, lid van die bevelstuktuur, was by ‘n hotel in Landdros Marestraat gebly. Sy perd was ook in die hotel se stalle gehuisves. Met die Engelse op pad, het daar groot onrustigheid in die dorp ontstaan. Kooijker, wat agtergeby het toe die Burgres onttrek het, is die oggend eers skool toe om die kinders gerus te stel alvorens hy weer by die Kommando’s sou aansluit.

 

Toe hy egter later by die hotel kom waar hy gebly het, was sy ryperd reeds weg. Dit word aanvaar dat een van die ander jong offisiere, ‘n mede adjudant saam met Kooijker die perd gegaps het om eers ‘n jong dame by Roodepoort,  suid van die dorp, te gaan groet. Feit is dat Kooijker toe sonder ‘n rydier gelaat was en het te voet Ooswaarts in Vorsterstraat (tans Mbekistraat) op gehardloop, al op die Kommando se spoor.

 

Ene adjudant Mauritz Dommisse, ‘n mede offisier van Kooijker, en ook van Bekers se personeel, was op daardie kritieke stadium te perd aan die Suidekant van die dorp onderweg na die Burgers te velde by Houtboscdorp om by die kommando’s aan te sluit. Die oprukkende magte het Dommisse opgemerk waar hy in die omgewing van Suidstraat gery het en ‘n afdeling Tasmaniese soldate is agter hom aangestuur.

 

Die adjudant het egter gemaklik onder hulle uitgejaag, aangesien hy ‘n perd op leitou gehad het en dus nie bang was dat sy rydier moeg sou word nie. Met die Tasmaniërs se terugtog het hulle ‘n hardlopende burger, Kooijker, opgemerk en hom dadelik aangeval. Kooijker het agter ‘n miershoop skuiling gesoek en homself verdedig. Hierdie skermutseling het in die omgewing plaasgevind waar Oosskool vandag staan.

 

Hy het aanvanklik vyf-en-twintig van die Britse magte se perde geskiet om hulle af te weer, waarna hy twee offisiere en ‘n manskap laat sneuwel het alvorens sy ammunisie opgeraak het. Hy was ook skrams gewond. Sonder ammunisie en gewond het hy sy geweer neergelê en hande omhoog, oorgegee. Die Australiese soldate was egter nie geneë om ‘n krygsgevangene te neem nie, veral na hulle perde en bemanning verloor het. Hy is summier met bajonette vermoor.

 

Adjudant G.C. Kooijker is in die Ou Begraafplaas ter ruste gelê en sy vriende uit Pretoria, Carolina en Pietersburg het later ‘n grafsteen daar opgerig. Nie ver van sy graf is die Britse soldate wat aan sy hand gesneuwel het,  begrawe en verskyn hul name op die Britse Oorlog-sarkofaag aldaar. 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.