Die Voorblad

A+ A A-

Historiese Paul Kruger-saal in Krugersdorp-Wes ontruim van plakkers

Na bykans 5 jaar se baklei, dreig en mooipraat met Mogale Stadsraad om die plakkers wat in die Paul Kruger Gemeenskapsaal in Krugersdorp-wes oorgeneem het te verwyder, is daar uiteindelik sukses, sê Raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus. Dit was ‘n opdraande stryd wat uiteindelik ‘n suksesverhaal geword het, net soos die Bob van Reenen Stadion.   Nie een van hierdie mylpale is egter sonder broodnodige steun bereik nie, wys sy uit.

 

 

Van die eertydse statige gebou met sy ryke geskiedenis het net ‘n ou, vuil, stinkende dop met gebreekte vensters oorgebly. Die Paul Krugersaal wat as historiese gebou verklaar is, is ‘n geleentheidsperseel en nie ontwerp om sowat 80 plakkers te huisves nie. Die sanitêre geriewe is beperk en daar is geen sprake van ‘n kombuis nie. Daar het baie klagtes van die omliggende gemeenskap gekom oor die riool en water wat by die gebou uitstroom.  Die lawaai as gevolg van inwoners wat buite gesit en drink het, rommel wat om die gebou opgehoop het en ‘n skerp toename in diefstal en huisinbrake in die omgewing, was deel van die klagtes.

 

Die aanvanklike groep is in die saal gehuisves in opdrag van die Mogale City Burgemeester as noodvesting omdat hulle zenefobia slagoffers was.  Die groep het egter mettertyd verdwyn en is vervang met ‘n groep plakkers wat wettiglik van ‘n stuk grond buite Krugersdorp verwyder is in opdrag van die stadsraad. ‘n Groot persentasie van diegene wat tot onlangs daar gewoon het, het gewerk en naweke was die Paul Krugersaal ‘n gewilde partytjieplek. Intussen het die belastingbetalers vir hulle krag en water betaal.

 

‘n Verdere bedrag word nou begroot om die saal weer op te bou en weer op te gradeer.  Dit kan honderde duisende rande beloop aangesien heelwat kundige herstelwerk aan die historiese houtvloere en balke gedoen moet word. Weereens ‘n verdere uitgawe vir die belastingbetalers van Krugersdorp!

 

“Die plakkers is met ‘n hooggeregshofbevel deur die rooimiere verwyder en na Munsieville geneem waar hulle hervestig is.  Ook hierdie oefening sowel as jare se hofonkostes om dieselfde plakkers wat die stadsraad self daar gehuisves het te verwyder, is 'n onnodige vermorsing van belastingbetalers se geld,” sê rdl De Lange.

 

“Dit het tyd geword dat die ANC die land met meer erns en verantwoording teenoor alle burgers regeer, sê sy.  Hulle eie kiesers is ook keelvol vir die swak besluitneming en onnodige vermorsing van belastingbetalers se geld.  Dit is egter ‘n verligting om na soveel jaar weer die Paul Kruger-saal aan die gemeenskap in Krugersdorp-Wes terug te gee” sê rdl de Lange."

 

"Die Vryheidsfront Plus sal egter, soos in die geval van die Bob van Reenen-stadium, ‘n wakende oog hou oor die restourasie en herstelwerk van die saal, en hopelik kan daar weer ‘n offisiële oorhandiging aan die omliggende gemeenskap gemaak word sodra die saal weer in ‘n ordentlike en bruikbare toestand is."

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.