Die Voorblad

A+ A A-

Gesoek: ‘n Nuwe Afrikaner-meesterverhaal

Deesdae word baie klem op die geskiedenis as narratief gelê – ‘n verhaal wat sin gee. In wese is dit subjektief; dit is iemand se verhaal.

 

Baie gelowiges kry nuwe sin uit Ou Testamentiese verhale deur die narratiewe posisies daarvan te ontleed.

 

Die argument is: As ek weet wat dit vir die eerste hoorders moes beteken, verstaan ek dit ook beter. Die groot narratief is Gods volk wat telkens afdwaal en dan teenspoed beleef, maar as hulle dit berou, kom daar genade en genesing. Binne die groot narratief is daar tallose kleiner narratiewe wat telkens die grote bevestig. Die groot narratief noem ek, omdat dit vir my mooier is, ‘n meesterverhaal.

 

Die tradisionele Afrikaner meesterverhaal lui ongeveer so: Die albeskikkende Wil van God het die Afrikaner aan die suidpunt van Afrika geplaas om die lig van die Westerse beskawing en die Christelike godsdiens Donker Afrika in te dra. Verraderlike gruweldade van inheemse stamme en onregte van die Britse Ryk kon die Afrikaner nie keer om sy roeping te vervul nie. In daardie terme was 1961 as’t ware “the end of history.” Dié meesterverhaal het as teenhanger van die Britse meesterverhaal ontwikkel. Daarvolgens het húlle die Lig gebring en was Afrikaners ‘n konstante stok in die wiel van rasionele en regverdige ontwikkeling.

 

Afrikaners en Britte se meesterverhale moes intussen plek maak vir dié van die ANC. Daarvolgens was Britte en Afrikaners grondrowers wat op verskillende tye, plekke en maniere die regmatige eienaars van Afrika onteien, ontwaardig en onderdruk het. Al waaraan Afrikaners en Engelse hulle kan troos, is dat enkelinge hulle teen dominantes in hulle groepe versit het. Trevor Huddleston en Beyers Naudé bewys dat “the milk of human kindness” tog onder blanke velle kan vloei.

 

Dit is nie ontstellend dat hierdie meesterverhaal in struggle-geledere onproblematies as die waarheid aanvaar word nie. dit is eintlik vanselfsprekend. Wat ontstellend is, is dat Afrikaners dit so maklik huidjie en muidjie sluk.

 

Sonder kritiese navraag word aanvaar dat apartheid ‘n nagmerrie van brutale onderdrukking was en dat elke verduideliking poog om perdedrolle as vye te verkoop. Dan aanvaar die NG Kerk sommer so die Belhar-belydenis met sy eensydige, ongenuanseerde verklaring van wat in die vorige bedeling gedoen en bedoel is.

 

Wat nodig is, is ‘n nuwe meesterverhaal van Afrikanergeskiedenis. Een wat vertel dat Afrikaners van die heel begin af slawe en later Khoisan of Bantu-arbeid gebruik het, met die onrealistiese verwagting dat ekonomiese integrasie met sosiale en politieke skeiding gepaard kon gaan.

 

Wat uitlig dat ‘n wêreldwye gees van Westerse meerderwaardigheid onder Afrikaners óók vaardig was, en nie éintlik onder Afrikaners nie. Wat reg aan die dapper, ongelyke stryd teen die Britse Ryk laat geskied. Wat aandui dat Afrikaners met 1913 en 1936 se grond wette (Land acts) grond vir swartmense gewaarborg het in ‘n tyd wat ander kolonies verder onteien het.

 

Wat raaksien dat die gewraakte Bantoe-onderwyswet van 1953 die mees doeltreffende massa-onderwysprojek ooit vir Suid-Afrika se swartmense afgeskop het – veel meer doeltreffend en verheffend as die gesukkel na 1994. Dat tradisionele swart gebiede (tuislande) nooit voor die NP-regering of daarna so doelgerig ontwikkel is as daartydens nie. Dat, in terme van die beleid, “sagte” lenings en volop mentorskap aan swart, bruin en Indiër sakelui gebied is, wat vir kommersiële banke te riskant was.

 

Ook dat ‘n werklike poging tot afsonderlike ontwikkeling deur rassistiese vooroordele en vernederende optrede bevlek is. Dat ‘n beleid met edele elemente tot ‘n blote magstryd gereduseer is. Dat die ergste “apartheidsmisdade” gepleeg is toe die regering sy rug op afsonderlike ontwikkeling gedraai het maar tog nie van die mag wou afstand doen nie.

 

Gesoek: ‘n Meesterverhaal waarin ons onsself herken.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.