Die Voorblad

A+ A A-

'n Kritiese ontleding van die SA kiesstelsel

Die VF Plus het vandeesweek weer bewys dat sy leiers intelligent en belese is om vir hulle ‘n werkbare politieke platvorm te skep. Die VF Plus se parlementêre leier, Pieter Groenewald, het verlede week ‘n doktorsgraad in politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit ontvang. Twee van sy kollegas in die VF Plus se parlementêre koukus het reeds hul doktorsgrade verwerf.

 

 

Sy verhandeling is: “Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ‘n kritiese ontleding en alternatiewe”. Gedurende sy navorsing het dr. Groenewald twaalf verskillende kiesstelsels ontleed en ‘n metode ontwerp om te bepaal watter kiestelsel  die beste geskik is vir ‘n deverse Suid-Afrika. Sy navorsing het vorige verkiesings en verkiesingsuitslae ingesluit waar bevind is dat die bedelings van 1910, 1929, 1948 en 1953 partye is wat aan bewind  gekom het sonder om die meerderheid stemme te trek.

 

Hy het gevind dat die huidige proposionele kiesstelsel die beste vir die land is. (Lees gerus hiernaas  ‘n kort opsomming van dr. Groenewald se verhandeling oor die kiesstelsel). Die plegtigheid is ook bygewoon deur die leier van die party, dr. Pieter Mulder en dr. Corne Mulder.

 

 

Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ‘n Kritiese ontleding en alternatiewe

 

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1994 ʼn nuwe grondwetlike bedeling betree. As deel van hierdie nuwe grondwetlike bedeling is ʼn nuwe kiesstelsel, naamlik die geslotelys- proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel aanvaar. Hierdie kiesstelsel is aanvaar vir verkiesings op nasionale vlak van verteenwoordigers vir die Nasionale Vergadering en hou bepaalde voor- en nadele in. Sommige politieke wetenskaplikes, politieke partye en meningsvormers is van mening dat hierdie kiesstelsel meebring dat daar gebrekkige kontak is tussen die verteenwoordigers in die Nasionale Vergadering (parlement) en die kiesers. Die kritici is ook van mening dat partyleiers te veel mag binne hierdie kiesstelsel verkry deurdat die partye die kandidate op kandidaatlyste aanwys. In verkiesings stem kiesers vir bepaalde politieke partye en het dus nie ʼn keuse ten opsigte van wie hulle verteenwoordigers is nie. Die gevolg is dat Suid-Afrika aan die verteenwoordigende aspek van demokrasie voldoen, maar in gebreke bly wat betref verantwoording deur verteenwoordigers aan die kiesers. Die legitimiteit van die parlement word ook hierdeur aangetas.

 

Die doel van hierdie studie is om die Suid-Afrikaanse kiesstelsel te ontleed en die funksionering daarvan op nasionale vlak te ondersoek. In die ontleding word bepaal in watter mate die Suid-Afrikaanse kiesstelsel aan die kriteria voldoen wat gestel word vir ʼn kiesstelsel om legitimiteit aan die parlement en ʼn volhoubaar verteenwoordigende demokrasie en verantwoordbare regering op die langtermyn in Suid-Afrika te verseker. Hierdie ontleding en beoordeling is aangewend om te bepaal of die bestaande geslotelys- proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, en indien nie, ʼn alternatiewe kiesstelsel vir Suid-Afrika te identifiseer en te ontleed. Die studie behels ʼn literatuuroorsig-ontleding van kiesstelsels.

 

Uit die studie blyk dit dat moderne demokrasieë ʼn wye verskeidenheid verskillende kiesstelsels toepas. Eenstemmigheid bestaan dat daar nie ʼn enkele beste kiesstelsel is wat deur alle state toegepas kan word nie, omdat elke staat sy eiesoortige omstandighede het en ʼn kiesstelsel se werking en uitkomste hierdeur geraak word. In hierdie studie word twaalf verskillende kiesstelsels geïdentifiseer met bepaalde voor- en nadele. Kriteria is gestel waaraan kiesstelsels moet voldoen om demokrasie te bevorder en legitimiteit aan die parlement te verseker. Hierdie kriteria behels dat kiesstelsels breë verteenwoordiging, toeganklike en betekenisvolle verkiesings, versoening, stabiele en effektiewe regering, verantwoordbaarheid van die regering, verantwoording van verteenwoordigers, bevordering van politieke partye, opposisie en oorsig, volhoubaarheid van die verkiesingsproses en internasionale standaarde moet bevorder en verseker.

 

Genoemde kriteria is in prioriteitsvolgorde geplaas in volgorde van belangrikheid in die huidige Suid-Afrikaanse omstandighede. Hiervolgens is ʼn evalueringsmodel opgestel wat gekwantifiseer is ten einde die voldoening van elke kiesstelsel aan die vereiste en prioriteitsvolgorde te verreken. In die bepaling van die prioriteitsvolgorde van die vereistes in die kriteria is die historiese omstandighede van Suid-Afrika van verdeeldheid, konflik, rassehaat, opstande en agterdog tussen rasse onderling verreken.

 

In die toepassing van die evalueringsmodel op die twaalf verskillende kiesstelsels is bevind dat die huidige geslotelys- proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel, die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, en ook behou moet word.

 

Ten opsigte van die kritiek teen die huidige kiesstelsel is die gevolgtrekking dat kiesstelsels nie die mate van verantwoording van verteenwoordigers kan verseker nie. Dit word verseker deur die interne reëls en dissipline van die verteenwoordigers se politieke partye. Kiesstelsels se bydrae tot verantwoording deur verteenwoordigers is om te verseker dat kiesers by ʼn volgende verkiesing ʼn keuse het tussen meer as een kandidaat of politieke party. Dit is ook nie kiesstelsels wat kandidate in ʼn verkiesing aanwys nie, maar die onderskeie politieke partye. In enige aanwysing van kandidate sal die leierskap en partyburokrasie ʼn bepaalde rol speel, ongeag die tipe kiesstelsel.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.