Die Voorblad

A+ A A-

Elektrisiteitsrekeninge – kopseer vir alle verbruikers

Suid Afrikaanse verbruikers het beslis ‘n era betree waar hulle self beheer oor alle maandelikse verhalings deur diensverskaffers soos Eskom, munisipaliteite, ens. moet neem.  Vanweë verhoogde verbruikersyfers tesame met verlaagde produktiwiteit en vaardighede in die diensleweringssektor is dit van kardinale belang dat verbruikers rekeninge deeglik nagaan en verstaan waarvoor hulle moet betaal.

 

 

Elektrisiteitsrekeninge is vir ‘n geruime tyd al ‘n kopseer vir verbruikers.  Administratiewe foute sowel as verkeerde berekeninge deur diensverskaffers is seker een van die grootste klagtes.  Diensverskaffers soos munisipaliteite sowel as Eskom self is volgens wet verplig om die verrekeningsmetode beskikbaar te stel aan die publiek.  Dit stel verbruikers in staat om self meterlesings te neem en die berekeninge na te gaan om sodoende potensiële foute uit te skakel of dan ten minste te minimaliseer.

 

Verbruikers word aangeraai om maandeliks hulle meterlesings te neem so na moontlik op dieselfde datum as wat dit deur die munisipaliteit of kontrakteurs geneem word en dan die berekening self ook te doen.  Indien daar groot verskille is kan moontlike foute dadelik aangespreek word.  Verbruikers sal sodoende ook medeverantwoordelikheid vir korrekte rekeninge neem wat tot hulle voordeel sal strek indien daar wel ‘n dispuut opduik wat dan ook makliker opgelos kan word.

 

Volgens wet het diensverskaffers ‘n venstertydperk waarin hulle dispute wat geregistreer is moet aanspreek en uitslag daarop lewer.  Indien ‘n verbruiker ‘n dispuut verklaar het en ‘n dispuut nommer van die verskaffer ontvang het, mag die verbruiker se krag nie afgeskakel word deur die verskaffer nie tot uitslag en vergelyk bereik is.

 

Inwoners kan ook vra dat raadslede ‘n ‘inligting’ sessie met hul eletrisiteitsdiensverskaffer reël om te help met die interpretasie van hulle rekeninge asook die metodes wat gebruik word met die verrekening van die kostes. ‘n Soortgelyke oefening is aan die Wesrand gedoen met groot welslae en sukses vir elektriese verbruikers wat met foutiewe rekeninge gesukkel het.  Sommige probleme het sover as 8 jaar terug gestrek.  Diensverskaffers verwelkom gemeenskappe se deelname om probleme uit te sorteer.

 

Indien verbruikers nie ‘n vergelyk met hul diensverskaffer kan bereik nie of hulle nie die nodige samewerking kry nie, kan die probleem na NERSA (National Electrical Regulator of South Africa) verwys word wat dan die nodige ondersoeke sal doen om die saak te besleg.  NERSA is ook die ‘ombudsman’ vir elektriesediensverskaffing in Suid-Afrika.

 

NERSA kontak nommer :  012 401 4600

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.